Kyknet Lydenstyd Gids 2022Voorbeeld

Kyknet Lydenstyd Gids 2022

DAG 31 VAN 39

Jesus leer ons in die Onse Vader dat ons na God moet draai en Hom moet vra: “Gee ons vandag ons daaglikse brood ... ” (Matt. 6:11). Hy weet dat ek behoeftes en begeertes het: fisies, psigies, sosiaal en geestelik. Later brei Hy uit oor die voorsiening van God in al ons begeertes. Hy verseker ons dat God vir ons alles sal gee wat ons regtig nodig het.

Dit is ‘n lewensreis om te werk aan ons begeertes en behoeftes. Ons moet daarmee omgaan, daardeur werk en onderskeid kan tref ten einde dit in ons lewens te orden. Die Bybel is nie teen begeertes nie, maar is wel daarteen dat ons iets meer begeer as wat ons God begeer. Leer ons dan nie uit die Woord dat jy geen ander gode mag hê nie? ‘n Afgod is ‘n verlange en begeerte wat bo God ‘n plek in my lewe kry.

So, die uitnodiging is ‘n suiwering van die begeertes in my lewe. Dis ‘n ontdekking van my ware begeertes en hoe hulle in my lewe georden is. Dis deel van die innerlike reis. Ek besef dat hoe meer ek my begeertes ‘n ongesonde plek in my lewe gee, hoe meer onvervuld raak ek. Dit is die siklus van verslawing, want volkome vervulling sal ek nooit vind nie.

God vervul my elke begeerte. Slegs Hy kan die diep soeke van my hart bevredig.

Ter Nadenke

Stel ‘n lys saam van die begeertes van jou hart. Reflekteer oor die plek van daardie begeerte in jou lewe. Orden hulle saam met God en praat met Hom daaroor.

Gebed

Here, gee my die genade om die verlange van my hart te verwoord.

Die Boodskap vir jou Lewensreis

Daaglikse oordenking wat voortbou op die dag se tema

Dag 30Dag 32

Aangaande hierdie leesplan

Kyknet Lydenstyd Gids 2022

Welkom op die Lydenstydreis. Tydens hierdie ervaring word jy genooi na ‘n paar ontwakings. Die doel van die reis is om te ontwaak tot die lewe. Lewe is God en lewe is saam met God. Ons gaan fokus op die ontwaking van myself, verlange, die lewe, vriendskap en roeping.

More

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.mosaiek.com