Stryd in jou Denke OordenkingVoorbeeld
Hy het my vertel dat hy en sy vrou sendelinge in Tsjaad, Afrika is en toe sê hy: "Ons beplan om D.V. in Januarie terug te gaan."
Ek het nie geweet wat D.V. beteken nie, maar ek het niks gesê nie.
Terwyl hy sy evangelisasieprogram vir die binneland van Tsjaad beskryf het, het hy aanhou sê: "D.V."
Uiteindelik het ek gevra: "Wat beteken D.V.?"
"Dis 'n Latynse term wat ek op skool geleer het en dit beteken baie vir my," het hy gesê. "Dit staan vir 'Deo Volente,' wat 'As God wil' beteken."
Terwyl ons gepraat het, het ek besef hoe ernstig hy D.V. bedoel het. Hy het gesê dat hy groot idees gehad het vir dinge wat hy in Tsjaad wou sien gebeur, maar meer nog, hy wou seker maak dat sy idees ooreenstem met God s'n. "As ek D.V. sê, herinner dit my--dis my manier van sê: 'Dit is wat ek graag wil hê. Is dit reg met U, Here?'"
Daar is baie mense wat spog — hulle besluit wat hulle wil hê en verwag alles moet glad verloop. Dit kan 'n slenter van die Satan wees. As hy hulle sover kan kry om op môre of volgende jaar te fokus, hoef hulle nie die probleme wat hulle nou konfronteer, te hanteer nie. Hulle kan in 'n wêreld leef waar net goeie dinge in die toekoms sal plaasvind. Is dit nie soos om 'n motor op die snelweg te bestuur en te ignoreer wat reg voor ons is nie, want ons is gefokus op die verkeerslig vyf blokke vorentoe? Ons stel onsself bloot aan 'n ongeluk.
Jesus het ons 'n lewe van oorvloed belowe (sien Johannes 10:10). Maar ons kan daardie oorvloed nie beleef as ons nie ons lewens ten volle aan Hom oorgee nie. Moenie vandag gebruik om môre te beplan en die probleme waarvoor jy nou te staan kom, te vermy nie.
Bid: My hemelse Vader, help my asseblief om vir vandag te leef. Of ek nou die woorde D.V. sê of nie, herinner my dat u wil belangriker is as enigiets in my lewe. Help my om die Satan nie toe te laat om my soveel aan môre te laat dink dat ek nie vandag leef soos ek moet om U te behaag nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.
Uit die boek "Battlefield of the Mind Devotional" deur Joyce Meyer. Kopiereg © 2005 deur Joyce Meyer. Uitgegee deur FaithWords. Alle regte voorbehou.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die lewe kan ons soms onkant vang. Wanneer 'n gedagtestryd ontwikkel, sal die vyand elke wapen in sy arsenaal gebruik om jou verhouding met God te verswak. Maar jy hoef nie sy slagoffer te wees nie. Hierdie oordenking sal jou toerus met besielings van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel...noem maar op, te oorwin. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot waarmee hy probeer om jou te verwar en leuens aan jou te vertel. Dit sal jou help om sy vernietigende denkpatrone die hoof te bied, oorwinning te kry deur jou denke te herskep, krag te kry en bemoedig te word, en nog meer belangrik, om oorwinning oor elke gedagtestryd te kry. Jy het die krag om hom te beveg en dis belangrik dat jy dit doen...selfs as dit net een dag op 'n slag is!
More