Every Nation Faith City - StemmeVoorbeeld
Dag 3 – Stemme en Skeppingsdoel
In ons lewens is daar dikwels diep vrae. Vrae soos:
Waarvoor gaan mense my onthou?
Watter werk wil ek eendag doen?
Wat is belangrik in die lewe?
Volg ek werklikwaar vir God?
Waar het ek my selfoon gelos?
Al hierdie vrae (behalwe die laaste een, want jy hou dit tien teen een nou in jou hand) is nie die belangrikste vrae om onsself af te vra nie. Daar is ʼn dieper doel wat God vir ons beplan en dit strek verder as hierdie vrae, dit is selfs meer diepgaande as ons persoonlike doelwitte.
Die primêre skeppingsdoel vir ons as Christene, is om naby aan God te wees en om dissipels te maak.
Wanneer ons God nader, luister ons na wat Hy sê en gehoorsaam Hom, deur dit te doen wat Hy sê. As ons dissipels maak doen ons dit nie vir ons eie eer nie, maar ons doen dit sodat God se liefde mense se lewens kan verander.
Net voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy sy dissipels uitgestuur met ʼn spesifieke opdrag. Hierdie opdrag vorm deel van elke Christen se doel op aarde.
Tog wil elke gelowige wil ook weet wat sy of haar individuele roeping is. Soms ontstaan spanning en verwarring omdat ons eers wil weet wat ons persoonlike roeping is.
Skape hoef nie bekommerd te wees oor wat hulle môre moet doen nie, of waar hulle gaan wei nie, want dit is die Herder se werk om hulle te lei. Dieselfde geld vir ons, Jesus is ons Herder en Hy sal ons versorg. Hy slaap nie, Hy los die nege en negentig skape om die verlore skaap te gaan soek. Dit is ons God! Hy roep ons om nader aan Hom te kom, maar reageer ons op sy stem?
Sodra ons die fokus van ons begeertes en ons motiewe wegneem en eerder op die begeertes van ons Herder fokus, is ons in die beste hande. God is getrou en sy Woord getuig keer op keer daarvan. Hoekom sal Hy ons nou los?
Neem vandag 'n oomblik om God te vra waar Hy jou kan gebruik om die lig vir sy koninkryk te wees en waar jy die goeie nuus van Jesus kan deel.
Aangaande hierdie leesplan
Stemme is oral om ons, en elkeen soek ons aandag. Daagliks word ons gekonfronteer met baie verskillende stemme, asook die keuse, na wat se stem luister ek vandag? In hierdie tyd van toewyding gaan ons kyk hoe om die stem van God beter te hoor!
More
Ons wil graag Every Nation Faith City bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.enfc.co.za