Every Nation Faith City - StemmeVoorbeeld

Every Nation Faith City - Stemme

DAG 2 VAN 4

Dag 2 – Verskillende Stemme

In ons daaglikse lewe kom ons meer met sekere mense in aanraking as ander. Dink aan jou familie, vriende, kollegas of selfs mense van die kerk. Ons het met sekere mense meer kontak as ander. Nou wanneer jy deel van ʼn skare mense is, gaan jy nie die heeltyd reageer wanneer jy jou naam hoor nie, tensy jy die stem herken. Dit is dus makliker om die stem van 'n bekende te identifiseer as die stem van ʼn totale vreemdeling.

Daar is menige kere waar die Bybel na ons verwys as skape, en Jesus as die goeie Herder. ʼn Skaap het nie enige spesiale vermoë nie. Mens hoor nie van ʼn skaap wat gebruik word vir verpakking, of as gids, of as beskerming nie.  Dit wat ʼn skaap wel goed kan doen, is om die stem van ʼn herder vinnig te leer ken en dan net op daardie stem te reageer.

Wanneer ons lees van Jesus as die goeie Herder, moet ons in gedagte hou dat Jesus se stem ons altyd gaan lei na God se planne vir ons. Maar ons moet terselfdertyd bewus wees van die vreemdeling se stem wat ons op die verkeerde pad wil lei. Die groot verskil tussen die stemme is die motief van die stem. Goddelike stemme roep ons nader aan God, terwyl slegte stemme ons wegdryf.

Pieter Coffee gee ʼn paar goeie wenke hoe om die twee verskillende stemme te onderskei (geneem vanuit Voices – Pieter Coffee):

Eienskappe van ʼn Herder/Goddelike stem:

Trek nader, bring gemak, kommunikeer liefde en aanvaarding, vredevol en gee ʼn gevoel van verwelkoming. 

Eienskappe van ʼn vreemde/slegte stem:

Bring skeiding, ongemak, kommunikeer vrees, selfsugtig, gulsig, verwerping en ʼn vreemde gevoel.

Neem vandag ʼn oomblik om na te dink oor jou eie lewe. Vra vir God om jou te wys waar jy na sy stem geluister het en waar jy na ʼn ander stem geluister het.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Every Nation Faith City - Stemme

Stemme is oral om ons, en elkeen soek ons aandag. Daagliks word ons gekonfronteer met baie verskillende stemme, asook die keuse, na wat se stem luister ek vandag? In hierdie tyd van toewyding gaan ons kyk hoe om die stem van God beter te hoor!

More

Ons wil graag Every Nation Faith City bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.enfc.co.za