Die Wapenrusting - Klere Vir Die OkkasieVoorbeeld
Groei in jou verlossing!
Rick Hanson sê die volgende oor ons brein: “Ons brein is soos "valcro" vir negatiewe ervarings, maar soos teflon vir positiewe ervarings."
Weet jy wat teflon en velcro is? Wel, velcro is 'n tipe "girts materiaal" wat stroke materiaal aanmekaar hou. Velcro is amper soos klitsgras, dit klou vas! Teflon is die teenoorgestelde. Jy het seker al op televisie gesien wanneer hul panne adverteer en belowe dat NIKS aan die pan sal vassit nie? Daardie pan is met teflon uitgevoer. Soos velcro gemaak is om te klou, word teflon gebruik om kleefwerend te wees!
Ons gedagtes werk dikwels so, ons klou vas aan negatiewe gedagtes of herinneringe en vergeet so gou van die positiewe gedagtes of herinneringe.
Een van die uitdagings wat ons as volgelinge van Jesus beleef, is om ons denke gereeld te vernuwe sodat ons die regte gedagtes kan dink en die negatiewe of afbrekende gedagtes kan laat vaar.
Vandag se gedeelte gaan oor verlossing en die rol wat verlossing in ons lewe kan speel. Efesiërs 6 koppel die woord “verlossing” aan die helm van ‘n soldaat. Wat is die funksie van ‘n helm — ongeag of dit ‘n soldaat, fietsryer of bouer is wat dit dra? ‘n Helm beskerm jou kop. Die helm van verlossing is ons beskerming.
Die stryd teen die vyand en bose geeste, is ‘n stryd wat ons ook met ons verstand veg. As ek en jy begin twyfel aan ons verlossing, en op negatiewe gedagtes fokus, raak dit sigbaar in die manier hoe ons lewe ... in die manier hoe ons optree, die dinge wat vir ons die belangrikste word en die dinge waaraan ons die meeste van ons tyd en aandag skenk.
Wanneer ons egter op ons verlossing in Jesus fokus en die waarheid en beloftes wat daarmee saamgaan, dan gaan ons al hoe meer die mense word wat God ons geskape het om te wees.
'n Hele paar jare gelede het iemand iets gesê wat ek tot vandag toe kan onthou en in my lewe probeer toepas: “Wanneer jy 'n terugslag ervaar, moenie terugtree nie, maak gereed vir 'n terugkoms!"
Werk vir jouself ‘n aksieplan uit! Wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan, voel dit asof die vyand die oorhand kry? Of, wanneer jy sommer net deur ‘n tydperk gaan waar dit vir jou voel jy groei nie saam met God nie, wat sou die beste strategie vir so 'n tyd wees? Vind ’n manier om jou gedagtes op God te rig en alles in jou verlede te laat vaar. Herinner jouself aan die tye wat God jou nie alleen gelaat het nie. Moenie dat negatiewe gedagtes jou beïnvloed nie. Dit is vir God belangrik dat jy jou gedagtes op Hom en sy verlossing gerig hou.
Hoe groei ons daagliks as kinders van God?
Deur nie toe te laat dat ons eie gedagtes ons agteruit laat gly nie. Ons klou vas aan ons verlossing! Wanneer ons struikel, val ons nie in ‘n gat en bly daar lê nie, ons staan op en staan vas in die waarheid van Jesus Christus se verlossing. Hy gee ons die krag deur sy Gees om op te staan en die lewe te leef wat Hy vir ons bedoel het!
Beskerm jou kop! Beskerm jou gedagtes! Onthou om jou helm van verlossing aan te trek.
Aangaande hierdie leesplan
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Voel dit vir jou asof jy nie oorwinning in die stryd behaal nie? Het jy al jou uitdagings vanuit 'n geestelike perspektief benader? Oorwinning in hierdie stryd word behaal deur die ses waarhede van die wapenrusting elke dag deel van jou lewe te maak. As jy vir jou geestelike stryd moed nodig het, gaan hierdie leesplan jou help!
More
Ons wil The Great Colab Ministries bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.youtube.com/channel/UCNSvbXWhRFKUWsRpch1wG8g