Die Wapenrusting - Klere Vir Die OkkasieVoorbeeld

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

DAG 4 VAN 6

Geloof: Ons geheime bestanddeel!

Daar is darem niks lekkerder as lekker kos nie! Dikwels is die verskil tussen “gewone” kos en iets was regtig lekker is, een geheime bestanddeel! 

Dit is hoekom party mense so suinig met hul resepte is! Hulle is nie bereid om daardie geheime bestanddeel sommer net met die res van die wêreld te deel nie. 

Geloof is sonder twyfel elke volgeling van Jesus se geheime bestanddeel. Sonder geloof sal ons nooit in ons verhouding met God kan groei nie. En, soos Efesiërs 6 ons herinner, is ons geloof ‘n belangrike deel van hoe ons die stryd teen die vyand kan oorwin. 

Dink gou aan die verskil tussen ‘n borsharnas en ‘n skild. Ons lees dat ons die skild van geloof kan gebruik om die brandpyle van die bose af te weer. Hoe werk ‘n borsharnas? Kan ek ‘n borsharnas rondbeweeg sodra ek hom aangetrek het? Nee! Die borsharnas gaan nêrens heen nie! Ek kan nie sommer gou iemand met my borsharnas oor die kop slaan nie. ‘n Skild is egter gemaak om rond te beweeg. ‘n Skild is ‘n aktiewe stuk van die wapenrusting ... jy kan dit met jou arm gebruik om die brandpyle af te weer. 

Net so is die geheime bestanddeel van my wenresep niks werd as ek dit nie by die res van my kos voeg nie. Net omdat die geheime bestanddeel in my huis is, beteken nog nie dat dit deel van my kos is nie! 

Geloof is ‘n geskenk wat God vir elkeen van ons gee. Ons kan dit nie verdien nie en dit is ook nie iets wat God sal wegneem nie. Maar die manier hoe my verhouding met God ontwikkel en groei, hang af van hoe ek my geloof aanwend. 

As geloof die saadjie is, dan moet ek sorg dat dit geplant word en water kry. Eers wanneer ek my geloof beoefen en deel maak van my lewe, begin my lewe vrug te dra. Wanneer my saadjie van geloof ontkiem en groei, volg liefde, omgee, selfbeheersing en nog ander dinge! Ons moet sekermaak dat die saadjie van geloof in ons lewens groei. Ons moet vir God vra om ons geloof te versterk, dit te laat groei en om Hom te vertrou met stappe van geloof in ons lewens. Wat is daar in jou lewe waarvoor jy God moet vertrou? Wat is daar wat Hy vir jou wil leer om jou geloof te laat groei? 

Dink aan die lewe van Abraham, hy moes sy geloof bewys toe dit gelyk het asof God nie sy beloftes gaan nakom nie. God is altyd getrou, dit is ons geloof wat moet groei. 

Jy kan maar brandpyle van die vyand verwag. Dit gaan kom. Maar jy is nie weerloos of onveilig in God se hande nie. Hy het jou toegerus met ‘n sterk en ondeurdringbare skild; die skild van geloof. 

Gebruik jou skild, oefen met jou skild. So leef jy elke dag in oorwinning saam met die Here!

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Voel dit vir jou asof jy nie oorwinning in die stryd behaal nie? Het jy al jou uitdagings vanuit 'n geestelike perspektief benader? Oorwinning in hierdie stryd word behaal deur die ses waarhede van die wapenrusting elke dag deel van jou lewe te maak. As jy vir jou geestelike stryd moed nodig het, gaan hierdie leesplan jou help!

More

Ons wil The Great Colab Ministries bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.youtube.com/channel/UCNSvbXWhRFKUWsRpch1wG8g