Die Wapenrusting - Klere Vir Die OkkasieVoorbeeld

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

DAG 3 VAN 6

Skoene vir die lang pad van vrede!

Is jy gereed vir die lang pad? Is die skoene aan jou voete gemaak vir die langpad? 

Almal van ons het al met nuwe skoene ‘n stel afgetrap! Toe ons die skoene gekoop het, het hulle so mooi en gemaklik gelyk. En toe ons hulle vir die eerste keer aantrek en in die winkels gaan rondstap, het ons vinnig besef, hierdie skoene is nié gemaak vir die langpad nie! 

‘n Verhouding met God, is vir ‘n lang pad bedoel. Party mense kan ‘n 100-meter naelloop baasraak, ander mense het weer lang asems. Een ding is seker, die pad saam met God is nie ‘n 100-meter naelloop nie. Daar is nie iets soos ‘n kortpad as ons 'n pad  saam met God loop nie. Nee, wanneer ons in God se wil loop, is dit 'n lewenspad. Dit is nie altyd ‘n maklike pad nie, maar dit is by verre die beste pad! 

Dit is ook hoekom God vir ons die regte skoene wil gee om aan te trek vir hierdie lang pad. 

Hoe lyk hierdie skoene? Wel, hulle is letterlik deel van 'n soldaat se wapenrusting, waarvan ons in Efesiërs 6 lees, die skoene lyk soos sandale wat met riempies om jou been vasgemaak word. Dit was nie sommer enige sandaal nie! Nee, aan die onderkant van die sool het dit ysterpenne gehad, amper soos die hardloopskoene wat ons vandag ken. Hierdie skoene is spesifiek ontwerp om jou te help om staande te bly wanneer die grond onder jou voete ongelyk is. 

Ons lees in Efesiërs 6 dat ons só bereid moet wees om die vrede van Jesus te verkondig, dat dit soos skoene aan ons voete moet wees. Die Boodskap vertaling stel dit so: 

Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees.” 

Ons het in die vorige oordenking gelees dat God ons vrygespreek het van ons sondes en dat ons nie langer met skaamte en skuldgevoelens hoef te leef nie. Om vrygespreek te wees en om in 'n verhouding met God te wees, gee ons vrede wat ons nie aan iemand anders kan verduidelik nie. 

Dink gou saam met my aan hierdie voorbeeld: As jy uitgenooi word om saam met vriende op ‘n staptoer te gaan, en jou ouers koop vir jou die beste stapskoene sodat jy gemaklik en veilig kan stap, hoekom op dees aarde sal jy verkies om eerder met jou plakkies of "Crocs" te gaan?! 

Wanneer ek en jy kies om in onmin  met ander mense te leef, wanneer ons toelaat dat skuldgevoelens of angs ons affekteer, wanneer ons vashou aan bitterheid oor iets wat iemand aan ons gedoen het, dan moet jy onthou, daar is ‘n alternatief. Jy het altyd 'n keuse. Jou splinternuwe stel skoene van vrede wag om aangetrek te word! 

Maak vandag die keuse om dié skoene  aan te trek en so deur die lewe te loop dat mense kan sien jy het 'n verhouding met Jesus. Hy is die een wat jou besluite, reaksies en hele lewe rig. Die manier hoe ons dié pad moet stap, is in vrede en om die goeie nuus aan mense te verkondig.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Voel dit vir jou asof jy nie oorwinning in die stryd behaal nie? Het jy al jou uitdagings vanuit 'n geestelike perspektief benader? Oorwinning in hierdie stryd word behaal deur die ses waarhede van die wapenrusting elke dag deel van jou lewe te maak. As jy vir jou geestelike stryd moed nodig het, gaan hierdie leesplan jou help!

More

Ons wil The Great Colab Ministries bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.youtube.com/channel/UCNSvbXWhRFKUWsRpch1wG8g