KersfeesoordenkingsVoorbeeld

Kyk Wie Opgedaag Het
Die romantiek gekoppel aan skaapwagters wat rondom die krip vergader, sou nie by die skaapwagters opgekom het nie. Hulle was nie op die eregaste lys vir enige gebeurtenis nie. Dit word algemeen aanvaar dat skaapwagters onder-aan die sosiale leer was, of baie naby daaraan. Nie hulle werk óf dit waarvoor hulle verantwoordelik was, naamlik skape, was uiters glorieryk nie.
Wat die aankondiging van die geboorte van die Verlosser betref, sou dit 'n dapper profeet moes wees wat selfs kon voorstel dat die skaapwagters ingesluit sou word, om nie eens van die verskyning van die engeleskaar te praat nie. Koninklike aanbidders van ver af miskien, maar plaaslike skaapwagters — onwaarskynlik. Tog het die engele ook aan hulle verskyn om “'n goeie tyding van groot blydskap ” aan te kondig. Hulle was ingelig oor die Here se plan.
Ons hoef nie iemand besonders te wees om deel te wees van God se raad en wysheid nie. God openbaar Homself aan wie Hy wil. Uit die Skrif lei ons af dat dit gewoonlik nie die hoogs gekwalifiseerde of godsdienstige persone se voorreg is nie. God soek 'n gewillige, soekende hart, 'n dienskneg se gesindheid en 'n nederige gees.
Dit kon hierdie einste eienskappe wees wat die sterrekykers gehad het, aangesien hulle insluiting nog vreemder was. Sommige van ons voel ongemaklik oor sterrewiggelary omdat dit ten beste gering geag word as 'n pseudo-wetenskap. God word egter nie aan bande gelê deur ons vooropgestelde idees nie, en daar is mense in baie haglike omstandighede wat “glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” Groot uitblinkers, soos C. S. Lewis, stem saam dat alle kulture tekens en aanduidings bevat wat hulle na 'n kennis van God en die temas van geregtigheid en oordeel lei, al is dit onvolmaak en onvolledig.
Iets omtrent 'n sekere ster het hierdie manne in die rigting van die helder môrester van Dawid gelei. Hulle het met groot verwagting die lang afstand na Betlehem afgelê. Watter soort koning sou hulle daar vind?
Ons moet onthou dat ons nie weet hoeveel manne gekom het nie — dit kon drie gewees het, maar dit word nie vermeld nie — wel drie geskenke, maar nie drie sterrekykers nie. Dit is ook onwaarskynlik dat hulle ten tye van die geboorte gekom het. Dit was heelwat later. Dit kon twee jaar later gewees het, as ons in ag neem dat Herodes al die seuntjies jonger as twee jaar laat doodmaak het.
Daarbenewens sien ons dat koning Jesus deur die sterrekykers uit die ooste aanbid word. Die eer wat Hom toekom, het van mense gekom wat buite die sirkel van die verbond was. Hulle het die seuntjie aanbid wat as Koning van die Jode gebore is, en geskenke gebring wat gepas was vir 'n koning. Hulle was met blydskap vervul terwyl hulle die ware Koning aanbid het.
Hier sluit ons nou die oordenkings af — met aanbidding en verwondering. Net soos die sterrekykers, aanbid ons die Koning wat God gekies het. Ons behoort haastig na sy ster te hardloop en ons lewens as geskenke vir Hom te gee. Ons kan ook groot blydskap verwag.
'n Baie geseënde Kersfees vir jou en jou gesin terwyl julle bymekaarkom om die geboorte van Jesus Christus te vier.
Indien jy hierdie onderwerp verder wil bestudeer of meer van Simon se boeke of leesplanne wil lees, gaan na www.simonmcintyre.net.
Aangaande hierdie leesplan

Ons Kersverhaal begin met die engel se aankondiging aan Maria en sluit af met die besoek van die sterrekykers. Ek sal meestal verwys na Lukas in die oordenkings en besprekings van die Kersverhaal aangesien die Evangelie van Lukas die volledigste aantekeninge bevat.
More