Die Laaste Lesse: 'n Leesplan vir die Heilige WeekVoorbeeld
Diensbaarheid en Liefde
Ek is nogal 'n perfeksionis en die feit dat ek drie dogters jonger as vyf jaar het, het 'n stok in my wiel kom steek. Ek kan die deurmekaar huis nie verdra nie en dit dryf my party dae teen die mure uit. Nou die dag koop ek toe 'n bordjie met hierdie gesegde: "Verskoon tog die deurmekaarspul. My kinders is besig om herinneringe te bou." Ek het dit teen die muur opgehang en loop 'n honderd keer per dag daar verby, op pad na die hoop Lego-blokkies, wasgoed, ballet rokkies, vuil skottelgoed en skoon handdoeke wat nog opgevou moet word, en dan fluister ek vir myself: "Bou herinneringe, Becky. Bou herinneringe."
Ek raak so besig met opruiming, dat ek vergeet om liefde te bewys.
Vandag se leesstuk neem ons na 'n ander tafel toe. Een waar Jesus baie dae deurgebring het met dié vir wie Hy lief was en as sy familie beskou het.
Lees Johannes 13:1-17 en let op Jesus se ingesteldheid teenoor sy dissipels.
Jesus, die Seun van God en Verlosser van die wêreld, het Homself verneder en 12 dissipels se vuil, stink voete gewas. Ek dink Hy het Hom egter nie gesteur aan die vuilheid en slegte reuke nie. Hy het geweet dat dit sy laaste oomblikke saam het hulle was en wou hê dié les moes uitstaan — woorde alleen sou nie op dié stadium voldoende wees nie. Hy het Homself dus verneder en die stof weggewas.
Lees nou weer Johannes 13:15-17.
Watter mense dien jy (of behoort jy te dien)? Medewerkers of werknemers? Kinders? Kamermaats of jou huweliksmaat? Vriende? Bure?
Op watter manier, figuurlik gesproke, kan jy dié week hulle voete was? Of as jy letterlik iemand se voete moet was, wie s'n sal dit wees?
Lees nou Johannes 13:34-35.
Ons betoon liefde wanneer ons mekaar dien. In der waarheid, sê Jesus: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Weet ander mense dat jy 'n Christen, 'n volgeling van Jesus is?
Dit breek my hart om te sien hoe Christenskap deesdae op sosiale media uitgebeeld word. Ons voer nie meer Jesus se opdrag uit om mense lief te hê en te dien nie. Dit is vir ons belangriker om hulle, wat nog nie Christene is nie, te forseer om volgens God se voorbeeld te lewe. Ons moet eerder ander in liefde dien en hulle nie dwing om ooreenkomstig God se voorskrifte te lewe nie.
Hoe sal mense se ervaring met Christus verander as ons hulle eerder in liefde dien as om hulle te oordeel?
Hoe bevrydend is dit nie om te weet ons hoef nie die wêreld te verander of te red nie! Ons is net geroep om onsself te verneder en ander te dien en lief te hê.
Aangaande hierdie leesplan
Kom ons raak rustig in hierdie Heilige Week en leer oor Christus se laaste dae op aarde. Elke dag gaan ons lesse of geskenke kry waarmee Hy moeite gedoen het om vir ons te gee. Moet jy opnuut herinner word aan dit wat die belangrikste was vir Christus — dat jy sy mense moet liefhê en Hom volg? Wat sou Hy vir jou wou leer in hierdie Heilige Week?
More