Alles Wat Ek Nodig HetVoorbeeld
Baie dikwels, wanneer ek dink dat ek desperaat iets nuuts in my lewe wil hê of nodig het, is dit eintlik God se teenwoordigheid, God se stem en die Woord van God waarna ek smag. In sy teenwoordigheid vlug vrees vinniger as die klein akkedisse wat voor my oor 'n Vrystaatse sypaadjie hardloop, vrede sak soos 'n warm kombers na 'n koue reëndag oor my, en drome spring en dans met nuutgevonde genot.
Drome wat ons nie eens geweet het in ons harte bestaan nie.
In sy teenwoordigheid droom ons op nuwe maniere. Ons kom in pas met sy hart omdat Hy in ons woon en ons van binne na buite vernuwe. Ons vind 'n doel deur die waarheid van sy Woord. In sy teenwoordigheid vloei enigiets wat ons ooit nodig gehad het eenvoudig oor in elke faset van ons lewens. Uit daardie oorvloed skep ons saam met die Meesterskepper, en die Meesterskepper skep deur ons.
Hy maak altyd en vir ewig nuwe dinge uit die ou en droë dele van jou lewe. God verander nie bloot jou omstandighede en gevegte nie, maar skryf NUWE verhale, maak NUWE herinneringe en bring NUWE avonture.
God se teenwoordigheid maak stukkende dinge heel. Nie oor enigiets wat ons gedoen het nie, maar omdat Hy heel is. Hy is nie gebroke nie; Hy is ongedeerd. Hy is nie verdeeld of stukkend nie; Hy is nie beseer of beskadig nie. Hy is nie gewond nie; Hy is volmaak. Hy is nie seergemaak nie. Hy is gesond.
Deur Jesus Christus is ons ook heel. Ons is nuut gemaak in sy teenwoordigheid.
Daar is niks soos om in sy teenwoordigheid te kom om deur Hom ons porsie na te streef nie. Daar is niks soos om die Voorsiener na te volg nie.
Streef met lof en dankbaarheid, met aanbidding en met die waarheid van sy Woord na jou Voorsiener.
Moenie altyd probeer om Hom alleen na te streef nie, selfs al is dit ongemaklik of 'n verleentheid. Veg teen die begeerte om terug te trek na die gemak van die eensaamheid op jou rusbank (of met die leë geselskap van Netflix). God het belowe waar daar twee of meer in sy Naam vergader, Hy teenwoordig sal wees. Ek het ongelooflike, kragtige wonderwerke sien gebeur in die harte en liggame van diegene wat saam na God soek. Ek het dit ook in my eie lewe ondervind. Word deel van die gemeenskap en bly in samesyn. Dit is hoe ons geskep is om te groei.
Verkondig dat God die God oor elke goeie en slegte tydperk is, beide die droë en die vrugbare tydperke, en die besige en die rustige tydperke. Hy wil hoor dat ons hierdie waarheid verkondig, want sy waarheid is goed en sterk. Wanneer ons sy waarheid praat, vind ons vreugde en word ons dankbaar. Hy begeer ons dankbaarheid, ons lof en ons aanbidding, want Hy weet dit sal ons herinner dat Hy op die troon is en reeds voor enigiets uitgegaan het wat ons moontlik vandag in die gesig mag staar.
My hart klop vir jou, die leser van hierdie woorde. Meer as enigiets wil ek hê jy moet Hom ken en presies weet hoe goed Hy is. Hy los ons nie op ons eie nie, Hy sit nie terug en kyk hoe ons vir onsself sorg wanneer ons sy hulp vra nie.
Hy het belowe dat wanneer ons Hom soek, ons Hom sal vind. Ongeag waar ons is en hoe ons daar gekom het — God het 'n perfekte porsie wat op ons wag.
Slotnadenke en gebed
Vader, elke goeie en volmaakte gawe kom van U af, en ons kan nie eens peil wat U vir ons in die toekoms beplan nie, maar ons weet dat U dit reeds verseker het, reeds daarvoor betaal het, reeds 'n pad vir ons oopgemaak het om daarby uit te kom.
Vader, ons wil wees waar U is. Ons wil u aangesig sien, u stem hoor om in die teenwoordigheid van volmaakte liefde te wees. Ongeskonde liefde. Liefde so suiwer soos die klank van 'n kristalglas.
Kom ontmoet die persoon wat hier lees, net waar hulle op hierdie oomblik is, want U ken hulle ten volle. U ken die stryde, die worstelinge, die mislukkings en die berge wat hulle moet oorwin. U weet wat nodig is om te oorwin, en U het dit reeds verseker. Meer as die goeie gawes wat U aan ons almal bring, bring nou u teenwoordigheid.
In die spanning, in die duisternis, in die stryd, in die woestyn, sal ons nie ophou om U te loof, U te aanbid, na U uit te roep, U te vertrou, onsself voor U te verootmoedig en te onthou hoe U ons getrou hierheen gebring het nie.
Ons sien met verwagting uit na U, Here. U is ons volmaakte porsie. U is alles wat ons nodig het.
Aangaande hierdie leesplan
God gaan voor ons uit en beskerm ons van agter. Hy is alreeds besig om ons gevegte te hanteer. Hy kan sien wat in ons blindekol aangaan. Hy word nie deur onverwagse gebeure verras nie. Hierdie 3-dag leesplan sal jou bemoedig met die waarheid dat God die Voorsiener is van presies wat jy vir jou lewe nodig het.
More