Alles Wat Ek Nodig HetVoorbeeld
Alles Wat Ek Nodig Het: My Porsie
“Waarom sou ek moedeloos voel, waarom sou die skaduwees kom,
Waarom sou my hart eensaam wees, en verlang na die hemel en huis;
Wanneer Jesus my porsie is, is Hy altyd my Vriend.
Hy sorg vir die mossie, en ek weet Hy waak oor my.
Ek sing omdat ek gelukkig is, en ek sing omdat ek vry is.
Hy sorg vir die mossie, en ek weet Hy gee vir my om.”
(Vrye vertaling)
-Civilla D. Martin, 1905
Ek weet nie van jou nie, maar die woord porsie is vir altyd vir my bederf deur die verskeidenheid "Weight Watcher"-advertensies wat deur die dekades heen verskyn het. Porsie = kos. Porsie = dieet. Porsie verwys vir my na 'n lewe van klein happies, van ontneming. Dit beteken beperking, om myself die genot van daardie heerlike bak sjokolade roomys te ontsê, of om voortydig te moet ophou nadat ek aan net een happie smaaklike sjokolade-toffiekoek gesmul het. Porsie beteken om 'n baie kleiner hoeveelheid van iets te hê as wat ek begeer. Dit beteken dat ek moet ophou eet van wat ek regtig wil hê, en dat ek uiteindelik nie tevrede sal wees nie.
As ek "porsie" sê, sê jy ... Beheer!
Ek wonder of dit is wat Civilla Martin met die woord porsie in gedagte gehad het toe sy daardie pragtige lirieke geskryf het oor 'n Christen-egpaar. Terwyl albei baie lewensbeperkende liggaamlike beproewings ondervind het, het hulle gelukkige lewens gelei wat van geloof oorgeloop het. (Soek die verhaal van die liedjie op vir 'n interessante agtergrond!) Ek is redelik seker sy het nie aan beperking gedink soos ons deesdae daaraan dink om suiker of koolhidrate inname te beperk nie. Die dieetgiere en ingesteldheid om porsies te beheer, is eintlik net 'n redelik onlangse neiging in ons kultuur van oormaat en genotsug.
Met die draai van die twintigste eeu het PicknPay en Checkers nie bestaan nie. Daar was nie wegneemetes nie, en om 'n appeltert te bak was aansienlik meer moeite as die gemak waarmee ek 'n pakkie tertkors oopskeur, die voorafgemaakte kors uitrol en oulike vormpies in die perfek platgedrukte en ronde kors sny om bo-op te plaas. In my geestesoog was 'n tuisgemaakte appeltert wat in 1905 gebak is beslis 'n veel meer gewaardeerde bederf wat saam met familie en vriende in gesellige samesyn aan 'n tafel geniet is, as hoe ons vandag daaraan dink om 'n appeltert te eet. Ons kan immers net na die plaaslike kruidenierswinkel gaan en een in minder as 30 minute koop!
Die woord "porsie" beteken inderdaad 'n maatstaf. 'n Perfekte maatstaf, nie 'n gebrekkige maatstaf nie. 'n Maatstaf wat uniek ons s'n is ... en nie enigiemand anders s'n nie. Dit is die presiese hoeveelheid van iets wat ons nodig het. 'n Algemene definisie van porsie (as 'n selfstandige naamwoord) is "'n individu se deel van iets: soos 'n aandeel ontvang as 'n geskenk of erfenis."
'n Geskenk, 'n erfenis — is iets wat ons nie kan verdien nie, maar 'n eer wat ons ontvang, net omdat ons as 'n seun en dogter in die familie van God aangeneem is. Jesus is ons porsie. Ons deel van die goeie in die lewe. Ons familie-erfenis met al die voorregte en titels van 'n seun of dogter.
Psalm 16:5-6 sê: "Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi." Ons het 'n goeie erfenis omdat God goed is. Ons het 'n porsie, 'n volmaakte maatstaf wat aan ons toegeken is wat ons veilig hou, wat ons ondersteun, wat ons in staat stel om bo die storm uit te styg en gevegte te voer deur sy voortdurende getrouheid en krag. Sy porsie en maat vir ons is 'n volmaakte geskenk wat ons so broodnodig het in hierdie lewe.
Dink hieroor na:
- Wanneer jy aan die woord porsie dink, dink jy daaraan om genoeg van iets te hê, of te min? Voel jy nou versadig? Hoekom of hoekom nie? (Jy weet dat ek nie nou van kos praat nie!)
- Het jy al ooit vir God gevra wat jou unieke en afgemete porsie op hierdie oomblik is? Indien nie, staan 'n paar oomblikke af om Hom te vra. Vra Hom om enigiets te openbaar wat as 'n hindernis voor daardie porsie staan. Wees bemoedig. God is getrou!
Aangaande hierdie leesplan
God gaan voor ons uit en beskerm ons van agter. Hy is alreeds besig om ons gevegte te hanteer. Hy kan sien wat in ons blindekol aangaan. Hy word nie deur onverwagse gebeure verras nie. Hierdie 3-dag leesplan sal jou bemoedig met die waarheid dat God die Voorsiener is van presies wat jy vir jou lewe nodig het.
More