Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs Voorbeeld

Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs

DAG 40 VAN 43

Lees: Hebreërs 12:14-29

SOAP: Hebreërs 12:14-15

Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Oordenking

Jesus is die anker van ons verlossing. Sonder Hom, is ons niks. Hy is die een wat ons met die Vader verbind en met Hom laat wandel. Dit beteken egter nie dat ons vry is om te leef soos ons wil nie. Ons vind praktiese onderrig regdeur die Skrif en veral in hierdie verse in Hebreërs.

Ons moet vrede nastreef, nie net met die mense wat ons wil en ons as vriende kies nie, maar met almal. Dit beteken nie dat ons wegdraai van onreg nie, maar dat ons onreg beveg soos Jesus gedoen het (Matt 8:1-3; 9:9-13; 18:1-7; 20:20-28; Markus 12:13-17; Lukas 10:25-42; 19:1-10; Joh 4:1-42; 20:11-18). Vrede beteken nie die afwesigheid van konflik nie, maar eerder om heiligheid na te streef deur ons lewens voortdurend in lyn te bring met die woord van God. As ons ander aanmoedig om dieselfde te doen deur die waarheid met liefde te praat en nie met veroordeling nie, gaan ons voort om vrede en heiligheid aan te beveel en na te streef.

Jesus is ons Prins van Vrede. Sonder ’n verhouding met Hom, het ons geen hoop op vrede in ons lewens of vrede in die wêreld nie. Terwyl ons vrede nastreef, moet ons onthou dat ware vrede slegs bestaan as ons die waarheid en heiligheid nastreef. Soos wat ons aanhou groei in ons wandel saam met God en ook groei in gemeenskap met ander gelowiges, sal ons vrede groei. 

Gebed

Here Jesus, U is die Prins van Vrede. Ek wil hê dat my lewe gekenmerk word deur u vrede. Help my om te sien waar ek vrede kan beoefen in my eie lewe, in my gesin, my gemeenskap en ook my land. Help my om te onthou dat vrede nie die afwesigheid van konflik is nie, maar eerder die teenwoordigheid van waarheid en ’n strewe na heiligheid. Amen. 

Dag 39Dag 41

Aangaande hierdie leesplan

Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs

Die boek Hebreërs vertoon die oppergesag van Christus op elke bladsy. Jesus is nie net verhewe bo enige iets waarin ons probeer om ons hoop te plaas nie, maar Hy is die Skepper en Een wat alles in stand hou. Hy het ons deur sy genade gered. Hy alleen is ons lofprysing waardig. Hy alleen is ons liefde waardig. Hy is ons alles.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/