Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs Voorbeeld

Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs

DAG 35 VAN 43

Lees: Hebreërs 11:23–31

SOAP: Hebreërs 11:26-27

Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

Oordenking

Moses is nog ‘n uitstekende voorbeeld van geloof in die Ou Testament. Moses het baie verdra, en hy het gekies om eerder ter wille van Christus te ly as om die plesiertjies van Egiptiese koninklikes te geniet. Die skrywer se gebruik van “die smaad ter wille van Christus” in hierdie gedeelte kan verskillend geïnterpreteer word. Die waarskynlikste interpretasie is egter dat die skrywer vir die lesers ‘n verband tussen Moses se lewe en hulle s’n wou aandui deur te verduidelik hoe Moses ter wille van God se belofte swaargekry het. 

Moses het God se belofte geglo dat ‘n Messias (Christus) eendag sou kom om God se volk te verlos. Moses het swaarkry verduur en Egipte verlaat omdat hy oortuig was van God se belofte. Hy het geglo omdat hy geweet het die Een wat hy nie kon sien nie, (God) sou aan hom getrou bly ongeag sy omstandighede. 

Ons is bevoorreg om aan hierdie kant van die kruis te leef met die wete dat die werk van die Messias wat toe nog sou kom, reeds afgehandel is. Ons volharding is nie omdat ons wag op ‘n Messias wat nog moet kom nie, maar omdat ons glo dat Hy weer sal kom. Ons kan seker wees dat die swaarkry wat ons ervaar, volharding sal kweek, en volharding is ons uitdrukking van vertroue dat God sy beloftes sal nakom. Mag ons, soos Moses, geloof hê om ter wille van Christus swaarkry te verduur.

Gebed

Vader God, gee vir my volharding. Help my om my oë en my lewe op u beloftes gefokus te hou. Help my om nie in die genietinge van die wêreld vasgevang te raak sodat ek u plan en doel vir my lewe uit die oog verloor nie. Ek wil groei in my volharding sodat ek aan U getrou kan bly. Amen.

Dag 34Dag 36

Aangaande hierdie leesplan

Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs

Die boek Hebreërs vertoon die oppergesag van Christus op elke bladsy. Jesus is nie net verhewe bo enige iets waarin ons probeer om ons hoop te plaas nie, maar Hy is die Skepper en Een wat alles in stand hou. Hy het ons deur sy genade gered. Hy alleen is ons lofprysing waardig. Hy alleen is ons liefde waardig. Hy is ons alles.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/