Jesus, Ons Alles. 'n Studie Van Hebreërs Voorbeeld
Lees: Hebreërs 5:11-6:3
SOAP: Hebreërs 6:1
Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God.
Oordenking
Nadat die skrywer van Hebreërs baie oor die heerskappy van Christus verduidelik het, het hy ’n onverwagse verandering in sy boodskap aangebring. Hier vermaan hy sy gehoor oor hul volwassenheid en begrip van Christelike leer. Hulle het voortdurend dieselfde idees behandel en was onwillig om verder te gaan na dieper onderwerpe of om ander te leer wat hulle moes bemeester.
Alhoewel dit van uiterste belang is om ’n deeglike begrip te hê van die fundamentele waarhede van die evangelie en leerstellings van die geloof, moet ons verhouding met God en ons geloofslewe voortdurend groei en tot volwassenheid vorder. Dit beteken nie dat ons voortdurend nader aan God sal voel of beter sal wees in die ‘Christelike lewe’ nie. Dit beteken dat ons voortdurend nuwe dinge sal leer oor God se karakter, teologie, die Bybel en wat dit beteken om in gemeenskap met ander gelowiges te leef.
Ons doel is volwassenheid. Volwassenheid lyk nie altyd soos oorvloedige seën nie. In werklikheid kan dit dikwels die teenoorgestelde wees. Hoe meer ons die evangelie, God se karakter en sy hart vir die wêreld ken en verstaan, hoe meer kan ons ander leer. Laat ons mekaar aanmoedig om ’n dieper en meer volwasse begrip te hê van wat dit beteken om as ’n vrygekoopte volk van God te leef.
Gebed
God, help my om te veg teen die drang van selfvoldaanheid in my geloof. Alhoewel dit ongemak kan beteken, bid ek dat U my voortdurend sal help om meer volwasse te word en te groei in my geloof en in my verhouding met U. Help my om bereid te wees om U beter te leer ken, ongeag hoe dit in my lewe lyk. In Jesus se naam, Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Die boek Hebreërs vertoon die oppergesag van Christus op elke bladsy. Jesus is nie net verhewe bo enige iets waarin ons probeer om ons hoop te plaas nie, maar Hy is die Skepper en Een wat alles in stand hou. Hy het ons deur sy genade gered. Hy alleen is ons lofprysing waardig. Hy alleen is ons liefde waardig. Hy is ons alles.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/