Lewe Veranderd: Aanvaar Jou IdentiteitVoorbeeld
Vermy die Vangstrik van Vergelyking
Dink jy ooit iets soos: "As ek maar net só skraal was, was ek al getroud," of "As ek so intelligent soos sy was, het ek al 'n bevordering gekry," of "Hoekom kan my kinders nie so voorbeeldig soos hare wees nie?" As jy al ooit minderwaardig gevoel het omdat jy nie soos iemand anders was nie, het jy heel moontlik in die strik van vergelyking getrap.
Seuns het my altyd met my suster vergelyk toe ons grootgeword het. Hulle sou sê dat ek aangenaam was, maar dat my suster die aantreklike een was. Om dit te hoor was om te voel of my voete onder my uitgeslaan word. Ek wou so graag aanvaar word, maar in plaas daarvan is ek gedurig deur verwerping seergemaak. Ek het geweet al eet ek minder, kleur my hare of dra modieuse klere, sou ek nooit soos sy wees nie en ook nooit goed genoeg nie.
Eers later in my lewe, toe ek die Rocky gebergtes aanskou, was ek oorweldig deur hoe verstommend mooi en majestueus hulle was. Op daardie oomblik het God in my hart gefluister dat Hy daardie berge asook vir my geskape het. Hy het sagkens met my gepraat en gesê: "Jy is selfs mooier as die berge." Dit was vir my moeilik om te dink dat dieselfde Skepper wat die aanskoulike landskap geskep het, my ook in die moederskoot aanmekaar geweef het en my die pragtige gelaatstrekke gegee het wat ek nou kritiseer. Net daar het ek besluit, as Hy sê ek is pragtig, moet ek dit begin glo.
Baie van ons het onsself oortuig dat ons nie goed genoeg is nie. Dit maak nie saak wat ons wil wees nie — skraal, gesond, sterk, slim, snaaks — ons is nooit goed genoeg nie. In werklikheid vergelyk ons onsself met wat ons op die oppervlak kan sien, en soms is wat soos 'n gemaklike lewe lyk, eintlik 'n pynlike een. Jy vergelyk jouself dalk met iemand wat 'n nommer 10 rok dra, maar wat jy nie weet nie is dat sy aan 'n eetversteuring ly. Jy dink dalk die vrou by die werk het alles onder beheer, maar haar huwelik lê in skerwe. Jy wens dalk jy het iemand se perfekte gesin en besef nie sy ly aan depressie nie. Die waarheid is dat nie een van ons perfek is nie.
Ons moet ophou om onsself te vergelyk. As God almal dieselfde wou hê, sou hy almal volgens dieselfde patroon geskep het. Hy het ons egter almal uniek gemaak. Dis so belangrik dat ons dit verstaan, want ons beeld van onsself bepaal hoe ons met ander mense omgaan. Dit raak die besluite wat ons neem. Dit rig ons lewens. Wanneer ons onsself met ander vergelyk, verloor ons ons Godgegewe vrede, vreugde en selfvertroue. As ons egter ons gedagtes aan Christus gehoorsaam maak en ons denke in ooreenstemming bring met wat God in die Bybel oor ons sê, vind ons sy pad vir ons lewens. En die oorvloedige lewe wat Hy vir ons gee.
Aksieplan:
As jy nog nooit verklaar het dat jy op 'n wonderbaarlike wyse geskep is nie, begin dit nou doen. As jy vergeet het om in daardie waarheid te leef, begin weer daarmee. Neem elke negatiewe gedagte: "Ek is nie goed genoeg nie", "Ek wens ek het soos sy gelyk" of "Ek wens God het dit vir mý gegee", gevange en hou daarmee op. Jy is 'n unieke, pragtige skepping, 'n meesterstuk wat deur God ontwerp is, en Hy maak nie foute nie. Jy is volgens sy beeld gemaak. Jy is kosbaar. Kies om dit te glo.
Aangaande hierdie leesplan
Met so baie stemme wat vir ons vertel wie ons moet wees, is dit geen wonder dat ons sukkel om ons identiteit te plaas nie. God wil nie hê dat ons loopbane, ons getroude status of ons foute moet bepaal wie ons is nie. Hy wil hê dat sy mening oor ons die hoogste gesag in ons lewens sal wees. Hierdie 6-dag leesplan sal jou help om wat die Bybel sê jy is, deel van jou te maak en waarlik jou identiteit in Christus aan te gryp.
More