Wees Doelgerig In Jou HuwelikVoorbeeld
Daaglikse Verbintenis
Om daagliks 'n ware verbintenis met jou huweliksmaat te hê, is noodsaaklik vir jou huwelik. Daarsonder sal jy sien hoe julle verhouding stagneer. Wanneer jy nie doelgerig moeite doen om tyd vir jou huweliksmaat te maak nie, sal dit uiteindelik daartoe lei dat julle van mekaar vervreem en niks meer as kamermaats of mede-ouers word nie. Daaglikse verbintenis met jou huweliksmaat vereis van jou om proaktief te wees. Hier volg 'n paar basiese gewoontes wat deel van elke dag moet wees.
Bid
Om vir mense te bid, is nie regtig moeilik vir volgelinge van Jesus nie. Die toewyding om saam met iemand te bid, veral saam met ons huweliksmaats, blyk een ding te wees wat baie paartjies verwaarloos. Dit is maklik om per geleentheid te bid dat ons huweliksmaats die nuwe werk kry of om gesond te word, maar om hardop saam te bid? Dit is eienaardig en ongemaklik, want mense voel hulle doen dit nie reg nie. Die doel daarvan om saam te bid, is nie om besonder geestelik voor te kom nie, maar om op die diepste vlak met ons Skepper te verbind. As jy nie gereeld saam met jou huweliksmaat bid nie, neem vandag die besluit om dit te doen. Begin stadig, deur God net vir daaglikse krag vir die dag te vra, en maak beurte om die gebed te lei. Namate dit 'n daaglikse geestelike gewoonte word, sal jou verbintenis met God en jou huweliksmaat verdiep, en jul gebede sal verskeie onderwerpe begin dek en dieper delf.
Kommunikeer
Kommunikasie in die huwelik is van kardinale belang. Dit voorkom dat ons van ons huweliksmaats vervreemd raak. Wanneer jy jou huweliksmaat van jou dag vertel, jou ondervindinge deel en vertel wat jou bekommer, bou julle 'n verbintenis met mekaar wat julle huwelik versterk. Nog 'n tree dieper in intimiteit is om te deel wat jou verhouding met God is en wat jy daardeur leer. Bestee tyd daaraan om elke dag met jou eggenoot te kommunikeer, nie net om jou hart te deel nie, maar ook om te luister wanneer jou huweliksmaat ervaringe deel. Bespreek die belangrikheid van kommunikasie en doen stappe om dit te verbeter.
Wees Bedagsaam
Wanneer 'n mens met iemand begin uitgaan, is dit baie maklik om aanhoudend en gereeld aan hierdie persoon te dink. Met die verloop van tyd, veral in die huwelik, kom dit nie meer so natuurlik nie. Dit beteken ons moet 'n doelgerigte poging aanwend om bedagsaam te wees. Stel kennisgewings op jou selfoon om jou te herinner om te bel of 'n boodskap te stuur. Los vir mekaar notas of briefies. Neem die besluit om te bel of 'n boodskap te stuur as jy iets sien wat jou met dankbaarheid aan jou huweliksmaat laat dink. Dit voel dalk nie so romanties om kennisgewings te stel nie, maar die alternatief is om jou huweliksmaat te verwaarloos. Vra of jou huweliksmaat ten opsigte van bedagsaamheid geliefd en versorg voel en doen moeite om hierdie behoeftes te vervul.
Oordink die volgende:
Op watter gebied moet jy jou huwelik verbeter? Gebed, kommunikasie of bedagsaamheid?
Aangaande hierdie leesplan
'n Sterk en gesonde huwelik gebeur nie net toevallig nie. Die sleutel tot die huwelik waarvan jy nog altyd gedroom het, is om doelgerig te wees. In hierdie 5-dag leesplan gaan ons verskeie onderwerpe bespreek wat jou sal help om die proses te begin om doelgerig te wees met jou eggenoot sodat jou huwelik kan wees wat jy nog altyd wou hê.
More