Eindig op 'n Hoë NootVoorbeeld

Ending Well

DAG 2 VAN 3

Denke, Liggaam en Siel

Ons het as volledige wesens die wêreld binnegekom — denke, liggaam en siel. Alhoewel ons dalk 'n paar veranderinge in party areas ondergaan het, is ons nog steeds volledige wesens! Ons is unieke weerspieëlings van die heerlikheid van God en vanuit gesonde heelheid, is ons beter in staat om ander ook baie lief te hê. Hierin lê ons grootste doel in hierdie tydperk.

Denke

Ons denke, wat dalk nie meer so skerp soos vroeër is nie, is nog vol herinneringe en ervarings. Die heuwels waarop ons bereid was om te sterf, het vlaktes geword terwyl daardie oënskynlike groot probleme deur die werklikhede van die lewe getemper is. Ondanks alles wat ons geleer het, val ons vyand ons steeds aan met gedagtes van onsekerheid, verwerping en eensaamheid. Ons moet op ons hoede bly vir sy taktieke en leuens dat ons waarde vinnig aan die kwyn is. Ons moet daardie negatiewe gedagtes doelbewus gevange neem en onderwerp aan die waarheid van wat Christus oor ons sê, voor hulle gedragspatrone word waarvolgens ons lewe. Wat jy glo, word jou werklikheid.

Liggaam

"Die lewe is kort, en dan sterf ons." Hierdie humoristiese stelling beteken nou baie meer vir my as toe ek dit die eerste keer in my dertigs gehoor het. Die lewe is werklik kort. Hoe langer ons lewe, hoe meer glo ons dit.

Ons ontvang een lewe, een liggaam. Dit is waar dat ons liggame ons uiteindelik in die steek sal laat, maar tot dan, het ons 'n keuse hoe ons daarvoor gaan sorg. Ons moet soveel moontlik beweeg, gesonde kos eet, genoeg slaap, en die buitelewe geniet. Dit is nie slegs sodat ons langer kan lewe nie. Dit is ter wille van lewenskwaliteit, sodat ons die beste weergawes kan wees van wie God ons geskep het om te wees. 

Siel

Ons siele is die middelpunt van ons menswees. Dit is die deel waarna ons ook dikwels as ons harte of gees verwys. Ons siele is die plek vanwaar vreugde en selfs ons glimlagte ontstaan. Ek sal selfs sover gaan om te sê dat 'n gesonde siel selfs belangriker vir ons welstand is as ons fisieke hartstoestand, want dit is in ons siele waar die Heilige Gees woon. 

Alhoewel hierdie drie dele afsonderlike funksies het, is hulle in samewerking om ons die mense te maak wat ons is. Elkeen van hierdie dele verg moeite en onderhoud, maar tog sal twee van hulle — ons denke en liggame — ons uiteindelik in die steek laat. Wat van ons siele? Ons siele kan lewendig en gesond bly tot ons ons asem uitblaas. Ons siele floreer wanneer ons dit voed met woorde van lewe en waarheid uit die Woord van God en terwyl ons in verbintenis en ooreenstemming met sy liefde is. Wanneer ons siele gesond is, het ons krag — sy bonatuurlike krag — om enigiets wat in ons rigting kom, te bowe te kom. 

Jy het 'n kritieke rol om in jou invloedsfeer te speel — jou kinders, jou kleinkinders, jou uitgebreide familie en jou vriende — wat aan jou 'n belangrike rede gee om jouself te versorg. Jy kan vandag besluit wat jy wil doen om die beste weergawe van jouself te wees. Dit is belangrik, want JY is belangrik.

Wat doen jy om jou denke, liggaam en siel te oefen en te ontwikkel? 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Ending Well

Ons is nou die ouer geslag: die seniors, die ouer mense, die bejaardes. Alhoewel ons geweet het dit sal gebeur, het dit hopeloos te gou gekom. In hierdie tydperk, moet ons die vraag vra: "Hoe eindig ek op 'n hoë noot?" Staan 'n paar dae af om saam met Robin Meadows te kyk wat die Woord van God oor ons doel in hierdie laaste jare sê.

More

Ons wil graag Robin Meadows bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asb: http://instagram.com/manymeadows