Trek 'n Kruis Deur AngsVoorbeeld
God Beskerm Jou
Die probleem wat diegene het wat teen angs stry, is dat daar nie 'n aardse wapen is wat groot genoeg is om ons teen elke vrees wat ons in ons lewe in die gesig staar, te verdedig nie. Gelukkig het ons 'n Herder wat belowe het om ons te verdedig.
Elke herder in Dawid se tyd het 'n staf gehad, 'n stewige stok wat uit die middel van die laer gedeelte van 'n boomstomp gekerf was. Met hierdie staf kon die herder 'n leeu, bergleeu, wolf of beer verwilder. Met die stok sou hy die skape leiding gee, maar met die staf sou hy enigiets wat 'n skaap wou vang, vermorsel.
Om 'n kruis deur jou angs te trek, sal jy Jesus as jou verdediger moet sien. So dikwels wanneer ons voel ons word aangeval en kwesbaar of gespanne is, soek ons na iemand wat sonder voorbehoud aan ons kant is. Iemand wat ons sal beskerm!
'n Tyd gelede, terwyl ek deur 'n uitdagende tydperk gegaan het, het ek na 'n konferensie in 'n ander land gereis om as spreker op te tree. Voor die sessie begin het, het 'n groot groep leiers en konferensie-organiseerders agter die verhoog bymekaar gekom om te bid.
Na die gebed het 'n vrou my genader met 'n bemoedigende woord. Ek het haar nog nooit ontmoet nie en sy het niks van my persoonlike lewe geweet nie. Haar woorde het my egter daardie aand getref. Sy het gesê: "Ek wil jou net bemoedig; ek kry die gevoel iemand probeer vir jou 'n strik stel, maar God beskerm jou."
Wat sy nie geweet het nie, is dat ek 'n klomp slapelose nagte deurgebring het om myself te probeer beskerm.
Ek hoef nie te weet wat jou situasie is om daardie bemoediging aan jou oor te dra nie. Ek weet nie vir seker waarvoor jy nou bang is nie, maar ek wil jou herinner, God beskerm jou.
As 'n kind van God in Christus, beskerm die almagtige God jou.
Geen bose plan, aanval of vrees is bestand teen jou Herder, Jesus, nie. Hy hou wag oor jou, selfs terwyl jy slaap. Hy stuur jou nie in die donker dieptes in nie, Hy lei jou daardeur, met 'n staf in die een hand en 'n stok in die ander.
Roep nou uit na Jesus en bedank Hom vir sy belofte om jou lewe te beskerm. Sê vir Hom jy maak op Hom staat om jou en jou geliefdes se lewens te beskerm. Omdat Hy by jou is kan jy saans jou oë toemaak en weet Hy kyk van alle kante; uit elke hoek. Om die waarheid te sê, Hy sien jou omstandighede voordat jy dit sien. Hy beskerm jou op maniere wat jy nie eens besef nie. Jesus is vir jou. Hy het jou lief. Hy beskerm jou.
Aangaande hierdie leesplan
Angs mag die vrees wees wat oor jou skouer loer, die bekommernis langs jou, of die vrees wat jou lewe bedreig. Vir baie mense is dit 'n kragtige reus wat jou wil laat glo dat jou lewe nooit weer normaal sal wees nie. Vir die volgende sewe dae, gaan ons na Iemand groter en kragtiger kyk — Jesus, ons groot oorwinnaar.
More