Om God se Vrede te ErvaarVoorbeeld

Experiencing God's Peace

DAG 4 VAN 5

Vrede Met Ander

Ons soek dikwels vrede in ons verhoudings. Die maklikste pad na vrede, is om eers vrede met God te hê, wat deur die vrede van God gevolg word. Hierdeur kry ons 'n hemelse vooruitsig op dinge wat dwarsdeur ons aardse verhoudings sal dring. 

Ons neem egter nie altyd daardie standpunt in nie, of hoe? Soms is ons gebrek aan vrede met ander, juis omdat ons hardkoppig is en nie tegemoetkomend wil wees wanneer ons nie saamstem nie. In ons hoogmoedigheid dink ons dat ons manier van doen, die beste is. Nog 'n rede waarom ons nie vrede met ander het nie, is omdat ons nie voorspoed vir hulle gun nie, óf omdat hulle ons seergemaak het, óf omdat ons jaloers op hulle is. Daarom wil ons nie hê hulle moet voorspoedig wees nie, maar eerder misluk.

Ons kan egter uit 'n verskeidenheid Bybelverse leer hoe om in vrede met ander te lewe. Kyk hierna:

  • Wanneer iemand ons vervolg, moet ons hulle seën (Romeine 12:14). 
  • Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, wees goedgesind teenoor alle mense (Romeine 12:17).
  • Antwoord 'n belediging met 'n seënwens (1 Petrus 3:9).

Selfs wanneer ons hulle seën wat ons vervolg, deur te kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, en dus eerbaar in ons dade is, mag daar nog steeds nie vrede wees nie. Hoekom? Omdat mense maar net mense is, en alhoewel ons ons allerbeste probeer om reg op te tree en goed te doen, ontbreek dit ons aan volmaaktheid. Nie elke verhouding kan gered word nie, maar laat ons alles in ons vermoë doen om ons deel te doen. 

  • Kom ons tree in liefde en ontferming teenoor mekaar op. 
  • Kom ons hoop en wens net die beste vir ander toe. 
  • Kom ons oorweeg dinge vanuit ander se standpunt.
  • Kom ons vra om verskoning wanneer ons verkeerde dinge moet regstel. 
  • Kom ons bid dat God in ons en in ander sal werk.

Ten slotte, kom ons onthou dat mense nie ons vyande is nie. Ons het 'n ware geestelike vyand wat daarvan hou dat ons baklei en mekaar beskuldig. As ons ander mense, omstandighede of stryde blameer vir ons spanning en gebrek aan vrede, gee ons onvermydelik aan hulle beheer daaroor of ons in vrede lewe of nie. Kom ons gee aan niks en niemand in ons lewens sulke mag oor ons nie. Daar is slegs Een wat vrede bring en sy Naam is Jesus. Hy is die Vredevors. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Experiencing God's Peace

Die wêreld se vrede is heeltemal anders as God se vrede. Wêreldse vrede is tydelik en van omstandighede afhanklik. Daarteenoor bied God se vrede 'n permanente oplossing, naamlik die redding deur Jesus en sy teenwoordigheid in ons lewens. In hierdie leesplan sal ons kyk wat God se vrede werklik beteken en hoe ons dit in ons lewens kan ervaar.

More

Hierdie oorspronklike leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.