Die Bybel: 'n VerduidelikingVoorbeeld
Waarvoor is die Bybel?
Daar is iets waaroor ons nou eerlik moet wees. Dit is maklik om in die Skrif te lees wat ons graag wil hoor teenoor wat dit eintlik sê. Dit is hoekom daar so baie hewige argumente op sosiale media is, waar verse aangehaal word op 'n manier wat nie altyd vir ander van hulp is, of wat God eer nie.
Luister dus: die Skrif is nie bedoel om as wapen gebruik te word of om argumente te wen nie. Die doel is om ons te bemoedig, te korrigeer en te verander en om ons te help om meer soos God te word.
Dit is baie belangrik dat ons die Bybel korrek gebruik. Ons moet verse in die regte verband aanhaal. Ons moet ook seker maak dat ons die waarheid van die Bybel op 'n genade-gevulde wyse gebruik.
Moenie verse uitkies om 'n argument te begin of om iemand anders te boelie of jou eie begeertes te regverdig nie. Om die waarheid te sê, om verse buite verband aan te haal, is hoe die Satan vir Jesus probeer versoek het.
Voor Jesus se bediening begin het, het Hy 40 dae in die woestyn gevas. Gedurende hierdie tyd het Hy Homself innerlik voorberei voordat Hy ander ooit uiterlik begin onderrig het. Hy het vervul geraak met die Skrif en het Homself deur gebed vir teenkanting voorberei.
Na hierdie periode van 40 dae, het die Satan vir Jesus drie keer versoek. Een keer het hy vir Jesus gesê om Homself van 'n krans af te gooi, want die engele sou Hom red. Hy het eintlik Psalm 91 aangehaal, maar Jesus het so geantwoord:
“Daar staan ook geskrywe: 'Jy mag die Here jou God nie versoek nie'" Matteus 4:7.
Om Skrifgedeeltes buite verband aan te haal is 'n verwronge taktiek wat ons nie moet herhaal nie. Moet dus nie Skrifgedeeltes gebruik om ander te bedrieg sodat jy jou sin kan kry nie.
Sulke wysheid kom met oefening en gebed, moet dus nie paniekerig raak nie. Jesus kon deur die Satan sien, omdat Hy die Skrif en sy Vader ken. Dit verg dus geduld. Dit neem tyd. Wanneer jy egter deurgaans tyd met God deurbring deur sy Woord te lees en met Hom in gebed te praat, sal die Heilige Gees getrou wees om jou te help onderskei wanneer iets nie tot eer van God is nie.
Onthou dus — moenie God se Woord as 'n wapen teen ander gebruik nie. Gebruik die Woord van God eerder om oorlog te maak in geestelike gevegte teen ons vyand. God sal jou help om die verskil te herken as jy Hom aanhoudend soek.
Bid: Vader, toets my motiewe. Onthul enigiets in my wat nie van U af is nie. Help my om die Skrif op die regte manier te verstaan en met die regte motiewe. Verwyder my verskuilde motiewe en vervang dit met meer van U. Gee my die onderskeidingsvermoë om te weet wat van U en wat van die vyand is. Help my om die Skrif as 'n wapen teen my geestelike vyand en nie teen mense te gebruik nie. Dankie vir die krag van u Woord en die teenwoordigheid van die Heilige Gees.
Aangaande hierdie leesplan
Die Bybel is een van die invloedrykste boeke van alle tye, maar dit kan oorweldigend voorkom om te weet hoe om dit te verstaan en wat om daarmee te doen. Hierdie 7-dag leesplan sal jou help om te ontsluit wat die Bybel is, hoekom dit saak maak, en hoe jy dit vandag kan verstaan. Ons sal ook ontdek hoe jy God se Woord in sy wêreld kan aanwend.
More