Inleiding Tot Die TabernakelstudiesVoorbeeld
GOD, DIE ARGITEK VAN SALIGHEID
Die enigste gebou wat ooit op die aarde opgerig is en van die begin volmaak was, in elke detail volkome was en wat nooit nodig gehad het om aan bygevoeg of verander te word nie, was die tabernakel in die woestyn.
Die bloudruk, die uitleg, die plan en ontwerp met al die spesifikasies is ontwerp in die hemel. Dit is deur die Here oorgedra aan Moses vir die volk Israel. Moses het dit ontvang terwyl hy op die berg Sinai was kort ná Israel se uittog uit, en verlossing van, Egipte.
Die fynste detail van die tabernakel, elke aspek en besonderheid, is deur die Almagtige God self ontwerp. Elke aspek het ’n profetiese verlossings- en tipe betekenis wat in Christus vervulling gevind het.
Daar is geen Skrifgedeelte ryker in betekenis, meer volmaak in lering te wete die saligheidsplan, as hierdie Goddelik-ontwerpte gebou nie – die tabernakel.
God self was die argitek. Elke besonderheid wys heen na ’n sekere aspek van die karakter en werk van die persoon van God se Seun, Jesus Christus. In sy voltooide vorm is die tabernakel heel waarskynlik die mees volledige gedetailleerde openbaring van Jesus Christus, die Seun van God en die plan van saligheid, in die ganse Ou Testament.
Die tabernakel het uiterlik met die eerste oogopslag van buite, baie onaantreklik gelyk. Van buite is daar bitter min wat ’n aanduiding sou kon gee van die heerlikheid en glorie en skoonheid en prag van wat binne bestaan het. Die priester wat van buite kyk, kon glad nie die intrinsieke skoonheid en asemrowende heerlikheid raaksien nie.
Alleenlik nadat hy die voorhof betree het deur die poort aan die oostekant, stilgestaan het by die koperaltaar met sy brandoffers, sy hande en voete gewas het in die koperwaskom, kon hy ingaan om die heerlikheid te aanskou van wat binne in die tabernakel was.
Hierdie tabernakel in die woestyn/wildernis sou die plek word wat die middelpunt van alle aanbidding sou wees vir die kinders van Israel gedurende hul omswerwinge, soos bepaal deur die God van die hemel self.
Moses is herhaaldelik beveel om ’n presiese replika te maak van die een wat God hom op die berg Sinai getoon het (Ex 25:40; Heb 8:5). Wat God hom getoon het was dus een wat reeds bestaan het in die hemel. Die tabernakel was dus ’n tipe, ’n afbeelding, ’n skaduwee van iets met ware substansie wat reeds bestaan het!
Een ding is absoluut seker – die tabernakel van God op aarde was ’n tipe of voorafskaduwing van die Here Jesus Christus! Waar God en mens ontmoet, waar Goddelikheid en mensheid in een persoon ontmoet (Heb 8:1-2). In Christus vind ons dus die volkome antwoord van die geestelike betekenisvolheid van die tabernakel. Daarom lees ons in Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword en het onder ons kom woon” (letterlik: tabernakel). . .
Elke gedetailleerde aspek van die tabernakel, wys heen na verskillende aspekte van die persoon en werk van ons Saligmaker, Christus. Die tabernakel sou die toonbeeld wees van die algenoegsame en volkome voorsiening van die verlossing in Jesus Christus. Maar meer as net ’n beeld van Jesus Christus sou die tabernakel, in ’n sekondêre sin, ’n beeld van die gelowige wees.
Die gelowige IN CHRISTUS is ook die woning van God. Ons is ook die tempel van die Heilige Gees (1 Kor 6:19; 2 Kor 6:16). Die tabernakel is nie net ’n beeld van die Here Jesus Christus én die gelowige nie, maar ook ’n volkome beeld van die plan van saligheid wat uit ’n sewevoudige plan bestaan:
Een: As sondaar wat buite staan, moet ons ingaan deur die deur (poort) en stop by die ALTAAR: plek van offer (dit is die kruis, die beginpunt van ons ervaring van saligheid).
Twee: Daarna volg afsondering en daaglikse reiniging by die KOPER-WASKOM.
Drie: Dan word beweeg na die gemeenskap met die Woord of brood by die TAFEL MET TOONBRODE.
Vier: Ons leer om te wandel in die lig van die GOUE KANDELAAR (1 Joh 1:7).
Vyf: Nou, en nou eers, kom ons by die plek van krag in gebed by die GOUE WIEROOKALTAAR.
Ses: Nou is ons gereed en gaan ons in by die HEILIGE DER HEILIGE vir die hoogste diens van die tabernakel in God se intieme teenwoordigheid.
Sewe: Dit bring ons tot volkome rus en vrede by die bloed-besprinkelde VERSOENDEKSEL van die VERBONDSARK onder die skaduwee van die gérubs van heerlikheid.
Dit is ongelooflik om daaraan te dink dat al hierdie dinge op ’n klein stukkie aarde plaasvind in die midde van die volk in die woestyn.
Die grootte van die reghoekige stuk grond was: 75 voet wyd (23 meter) en 150 voet lank (46 meter).
Dit was dieselfde grootte as ’n gewone stuk grond vir ’n woning in die latere stadslewe van die volk Israel. Hierdie reghoekige stuk grond waarop die tabernakel staan gemaak is, was omhein met ’n omheining van sewe-en-’n-half-voet (2.3 meter) hoog. Aan die oostekant was die hek of poort die enigste plek van toegang tot hierdie heilige gebied.
Die hoofgedagte van die tabernakel was dat God ’n pelgrim geword het saam met pelgrims (die mens), en dat hy ’n “tent” bewoon het saam met tentbewoners – of, dat God neergedaal het tot waar die mens was sodat Hy met die mens gemeenskap kon hê. “En daar sal Ek met jou saamkom” (Ex 25:22). In Christus sou God onder die wolkkolom woon (Joh 1:14). Tabernakel is ’n naam gevorm na die Latynse woord wat TENT beteken, in Hebreeus letterlik: WONING (Ex 25:8-9). JESUS kom woon by ons (Joh 1:14), en in Openbaring 21:3 kom GOD DIE VADER vir ewig by die mens woon.
Die tabernakel, gemaak met mensehande, is deur die Here self ontwerp. Die hele ontwerp en uitleg van die tabernakel is deur die Here aan Moses op die berg Sinai getoon. Moses is beveel om die tabernakel streng volgens die Here God se duidelike voorskrifte te bou.
Aangaande hierdie leesplan
Die tabernakel met alles wat daarmee gepaardgaan, spreek tot ons van Christus (Heb 10:20). Die Ou Testament is die slot, die Nuwe Testament is die sleutel; en wat beteken ’n slot sonder ’n sleutel? Net so is kennis van die Ou Testament nodig om die Nuwe Testament reg te verstaan. Die twee vul mekaar aan en vorm een, volmaakte geheel. Leer meer oor die tabernakel en die gepaardgaande rituele.
More
Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/