Trapklippe Na ShalomVoorbeeld
![Stepping Stones To Shalom](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F15895%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Wees 'n Brug vir Vrede
Die Joodse wysgere het aan mense geleer dat daar drie simbole van vrede is: die rivier, die voël en die ketel.
Die redes hiervoor? Tradisioneel het 'n rivier twee dorpe met mekaar verbind. Dit het dus vir mense 'n manier geskep om met mekaar sake te doen en oor en weer te kuier. 'n Voël maak sy nes op land, maar kan hoog in die lug opvlieg. Dit oorbrug dus hemel en aarde wanneer dit tussen die twee vlieg.
Die ketel bring twee opponerende kragte bymekaar om iets goeds na vore te bring. Vuur kook die water; op sy beurt kan water weer 'n vuur blus. Wanneer 'n ketel egter tussenbeide kom, kan beide saamwerk en 'n middel skep wat bydra tot voordeel van die mensdom.
Ons lees in die Bybel dat God aan die Israeliete die opdrag gegee het om die tabernakel te bou, 'n tydelike struktuur wat sou dien as 'n heiligdom totdat die tempel in Jerusalem gebou kon word. Net voor die konstruksie van die tabernakel, het Moses die hele volk bymekaar geroep as 'n eensgesinde groep. Moses het hulle geleer dat die tabernakel as 'n kanaal van eensgesindheid sou dien en dit sou die drie eienskappe van die rivier, voël en ketel aanneem.
Net soos 'n rivier, sou die tabernakel en later die tempel 'n manier vir die volk wees om met mekaar in aanraking te kom. Dit sou 'n bymekaarkom plek vir die hele Israel wees wanneer hulle as pelgrims na die drie verpligte feeste kom.
Die tabernakel sou ook soos 'n voël funksioneer deur die hemel en aarde te verbind. Dit was die plek waar iemand God intens kon ervaar. Dit was die plek waar die heerlikheid van God in die Allerheiligste gewoon het en waar die hoëpriester namens die volk versoening vir hul sondes sou vra.
Laastens het die tabernakel die krag van 'n ketel gehad. Mense het dikwels van oortuigings en menings verskil, wat tot argumente en verdeeldheid gelei het. Die tabernakel het dus daar gestaan as 'n simbool van alles wat die volk in gemeen het — hul geloof in God en die begeerte om Hom te dien. Alle geskille sou wegsmelt ter wille van hul gemeenskaplike saak.
Ons het nie vandag meer die tabernakel of die tempel nie, maar die wysgere leer ons dat elke individu 'n "mini-heiligdom" kan word. Ons kan aan God 'n plek gee om in ons te wees en te dien as 'n kanaal vir shalom. Ons kan die lewende beliggaming van die Tora wees, waarvan geskryf is: "… al sy paaie is vrede" (Spreuke 3:17b AFR53).
Kom ons bring mense bymekaar, net soos 'n rivier, deur brûe van begrip te bou en verbintenisse te maak. Kom ons streef daarna om soos 'n voël met die hemel te verbind, al woon ons nog hier op aarde. Kom ons wees net soos die ketel deur shalom tussen twee opponerende kragte te maak terwyl ons op ons gemeenskaplike waardes, oortuigings en God se doeleindes konsentreer.
Trapklip 8: Word 'n brugbouer. Onlangs het Pous Francis Christene regoor die wêreld daaraan herinner dat dit ons plig is: "nie om mure op te rig nie, maar brûe te bou." Soek na maniere om verskillende soorte mense vir goeie doeleindes in elkeen van jou lewensterreine bymekaar te bring.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Stepping Stones To Shalom](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F15895%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
In Judaïsme is die woord vrede — shalom — in die Hebreeuse woord shalem gegrond, wat "heel" of "voltooi" beteken. Ware shalom beteken dus dat verskillende partye doelbewus hul verskille eenkant toe skuif en ooreenkom om die goeie in die ander te sien, en dan nie slegs om langs mekaar te woon nie, maar tussen mekaar ter wille van 'n hoër doel. Hierdie leesplan verken 12 verskillende "trapklippe" wat ons kan lei om shalom in ons lewens te bereik.
More