Trapklippe Na ShalomVoorbeeld
![Stepping Stones To Shalom](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F15895%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
Hoe om Vrede met jou Vyande te Maak
Hoe maak jy met jou vyande vrede?
Of jou vyande volke is wat 'n wêreldwye oorlog voer, jou finansies of 'n medewerker is, ons het almal vyande in een of ander vorm. Ons kan probeer om die bedreiging fisiek te probeer uitwis of ons kan probeer om ons teenstanders te paai en vrede te maak.
Salomo bied 'n radikale benadering in Spreuke tot die hantering van jou vyande, 'n benadering wat die moeite werd is om te oorweeg. Hy skryf: "As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe" (Spreuke 16:7).
Wil jy dinge tussen jou en jou vyande regmaak? Maak dan dinge met God reg!
Kyk byvoorbeeld na die Jode in die boek Ester. Ons lees aan die begin van die verhaal hoe koning Ahasveros 'n groot feesmaal hou. Volgens Joodse tradisie en uit Joodse oogpunt was dit 'n tragedie, want die houers wat koning Ahasveros gebruik het, het hy uit die heilige tempel in Jerusalem geplunder. Hy nooi die Jode sodat hulle hul tradisies oorboord kan gooi en gewone Perse word.
Deur hulle heilige houers te gebruik, probeer koning Ahasveros om 'n boodskap oor te dra dat hy nou hulle hoëpriester is en sy paleis hul tempel. Ons lees egter dat Mordegai vir die Jode sê om nie na die feesmaal te gaan nie. Tog gaan hulle. Hulle is ook tevrede om opgeneem te word in die nuwe leefstyl en nuwe land.
Die pogings van die Jode om die Bybel, hulle God en hul tradisies agter te laat, het Haman se komplot goed gepas om die hele Joodse ras uit te roei. God het dikwels wanneer die volk vergeet wie hulle is, 'n vyand gestuur om hulle aan Hom te herinner. Die plan om die Jode te integreer, het dus nie gewerk nie.
Toe die Jode eers opregte sielsondersoek gedoen en berou gehad het, het alles verander. Selfs koning Ahasveros, wat aanvanklik nie 'n vriend van die Jode was nie, het hulle te hulp gesnel en letterlik die Jode van uitdelging gered en hul grootste vyand gestraf.
Dit kom dalk voor dat die logiese manier om met jou vyande vrede te maak, is om hulle te probeer gelukkig hou en hul guns te wen. Salomo leer ons egter 'n kragtige les dat dit nie noodwendig die regte manier is nie. Ons moet eerder vir God behaag en sy guns wen.
Ons moet nooit ons eie waardes prysgee om iemand by ons te laat inskakel nie. Ons moet nooit stilbly wanneer ons teen boosheid moet standpunt inneem omdat ons bang is wat ander van ons mag dink nie. As Christene en Jode moet ons eerder stewig vashou aan wie ons is en dit waarvoor ons staan.
Ons moet die lig vir die volke wees waartoe God ons roep. Ons moet nie bang wees om ons lig van waarheid en sedelikheid op die duisternis en bose te laat skyn nie. Wanneer ons God meer vrees as mense, bring ons shalom in elke terrein van ons lewens.
Trapklip 10: Vermeerder jou diens aan God. Dit mag dalk na 'n teenstelling klink om onsself te verbeter as ons doel eintlik is om ons verhouding met ons vyande te verbeter. Tog verseker hierdie onderrig uit Spreuke ons dat dit 'n effektiewe strategie is. Al is God se weë bo ons begrip, sê hierdie vers baie duidelik dat God op ons optrede reageer. Ons moet só optree dat ons God behaag en dan sal Hy ons vyande hanteer.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
![Stepping Stones To Shalom](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fimageproxy.youversionapi.com%2Fhttps%3A%2F%2Fs3.amazonaws.com%2Fyvplans%2F15895%2F1280x720.jpg&w=3840&q=75)
In Judaïsme is die woord vrede — shalom — in die Hebreeuse woord shalem gegrond, wat "heel" of "voltooi" beteken. Ware shalom beteken dus dat verskillende partye doelbewus hul verskille eenkant toe skuif en ooreenkom om die goeie in die ander te sien, en dan nie slegs om langs mekaar te woon nie, maar tussen mekaar ter wille van 'n hoër doel. Hierdie leesplan verken 12 verskillende "trapklippe" wat ons kan lei om shalom in ons lewens te bereik.
More