Ondenkbare Verlossing: God Se Teenwoordigheid In Miskraam En OnvrugbaarheidVoorbeeld
Onderdanigheid
Toe ek na Bybelverse oor onvrugbaarheid en miskraam gesoek het, het ek die volgende belowende beloftes gekry: "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet ..." (Romeine 8:28), “Toe sê Elisa: 'Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou ...'” (2 Konings 4:16) en “... Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel ..." (Genesis 22:17). As hierdie Bybelverse as troos vir my as seergemaakte vrou bedoel was, dan het dit nie daarin geslaag nie. Dit het my net meer vrae laat vra oor waarom hierdie beloftes nie waar is in my eie lewe nie.
Ek wou die belofte wat God aan Hanna gegee het, neem en dit my eie maak (1 Samuel 1). Ek wou egter nie soos Hanna omdraai en my langverwagte kind aan God teruggee nie. Ek wou die verbond neem wat God met Abraham en Sara gesluit het, en voorgee dat dit my verbond was (Genesis 15-21). Ek wou egter nie soos Sara negentig jaar oud wees om uiteindelik geboorte te gee nie. Ek het vasgeklou aan gelukkige eindes, maar ek het die jare van stryd, pyn, verwarring en vrugtelose geloof wat hierdie vroue verduur het voordat hulle beloftes van God vervul is, heeltemal misgekyk.
Ek moes dit uiteindelik in die gesig staar: dat God geen belofte aan my gemaak het nie. Geen engel of profeet het aan my verkondig dat ek 'n kind sou hê nie. Die waarheid is dat God 'n unieke verhaal vir elkeen van ons skryf.
Alhoewel die spesifieke beloftes miskien nie dieselfde is nie, is die God wat dit maak, wel. In elke verhaal ontdek ons 'n nuwe stuk van God se onveranderlike karakter. In plaas daarvan om hierdie verhale te gebruik om te verwag dat ons ons sin kry, kan ons dit gebruik om lief te raak vir die God wat noukeurig verlossing op elke bladsy inwerk. In plaas daarvan om dinge vooruit te loop na die einde, kan ons sien hoe God hierdie vroue getrou vertroos het, laat groei en gelei het in hulle twyfel, verwarring, ongeduld en frustrasie.
Ons word die kans gegun om agter die skerms te sien, hoe God 'n goeie plan in elkeen van hul lewens in werking stel, selfs al kan hulle dit nie sien nie. Is dit werklik moontlik dat God, wat hierdie ongelooflike verhale geskryf het, ook myne en joune skryf? Glo dit, liewe vriendin!
Hier is 'n diepgaande waarheid: om uiteindelik 'n kind te hê, is nie wat die lewens van hierdie vroue meer bevredigend gemaak het nie. Genesing is moontlik gemaak deur die proses van hul geloof, deur hul hoop en drome aan die Here oor te laat, sodat sy wil kon geskied, ongeag die eindresultaat. Nou is dit ons beurt. Sal ons God ook vertrou met ons lewens en ons begeertes?
Aangaande hierdie leesplan
Ervaar jy die pyn en hartseer van swangerskapsverlies? Kom ons stap deur die vele emosies, vra die moeilike vrae en soek Bybelse antwoorde. God se ondenkbare verlossing is nie net móóntlik in die donkerste oomblikke nie, maar dán ook baie duidelik en verrassend.
More