Die Reise Van Die VerbondsarkVoorbeeld
1000 v.C.
“ ’n BEDEVAARTSLIED. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite; dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob: Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie; sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie, totdat ek ’n plek vind vir die HERE, ’n woning vir die Magtige van Jakob! Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär. Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete. Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid en laat u gunsgenote jubel. Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg. Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon. As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit. Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer. Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood; en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel. Daar sal Ek vir Dawid ’n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ’n lamp toeberei. Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter” (Psalm 132) .
- 2 Samuel 6:12-17. Koning Dawid bring die ark van die Here na Jerusalem oor nadat hy gehoor het die Here het die huis van Obed-Edom geseën. Dié keer word die verbondsark op die regte manier vervoer, op die skouers van die Levitiese priesters. Dawid het die ark in die stad van Dawid, binne die tent wat hy daarvoor opgeslaan het, laat neersit.
- 2 Samuel 7:1-29. Dawid begeer om vir die Here ’n huis te bou ter wille van die ark van God, maar die Here laat Dawid nie toe om vir Hom ’n tempel te bou nie. God beloof aan Dawid dat daar uit sy nageslag een van sy seuns vir die Here se Naam ’n huis (tempel) sal bou.
- 2 Samuel 15:25, 29. Dawid vlug uit Jerusalem vir sy eie seun Absalom; die priester Sadok volg Dawid met die ark van God. Dawid beveel Sadok om die ark van God terug te bring in die stad; Sadok en Abjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar het dit gebly.
- 1 Konings 8. Koning Salomo bou die tempel van die Here en laat bring die verbondsark uit die stad van Dawid na die tempel in die binneste vertrek, die Allerheiligste. Daar het die ark van God ’n rusplek gevind.
- 2 Kronieke 34:14-15:3. Josía, koning van Juda, verneem dat die wetboek van die Here gevind is en laat die heilige ark terugplaas in die tempel van Salomo.
Aangaande hierdie leesplan
Die verbondsark van die Here is by die voet van die berg Sinai gebou. Nadat die ark van die Here gebou en in die Allerheiligste staangemaak is, het die reise van die verbondsark begin. Die reise van die ark kan in twee dele beskryf word: vanaf berg Sinai tot in die land Kanaän; en vanaf sy aankoms in die land Kanaän tot by sy rusplek in die tempel in Jerusalem.
More
Ons bedank Raymond D. Lombard Ministries vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.raymondlombard.com/