God Is Naby Jou Deur Nina SmitVoorbeeld

God Is Naby Jou Deur Nina Smit

DAG 3 VAN 5

Inspirasie uit die natuur

Wanneer ek die dag regtig inspirasie nodig het, werk dit elke keer om buitekant te gaan stap en na al die dinge te kyk wat God met soveel skoonheid geskep het. Net om daaraan te dink dat die oneindige groot God wat die wolke, die sonlig, die berge, die blomme en die see geskep het mý kan liefhê, slaan my asem weg. 

Hoe onwaarskynlik is sy liefde vir my, ’n sondige mensekind? Die verrassende vreugde dat dit waar is en dat dit waar sal bly, al verbreek ek vir die soveelste keer my voornemens om van nou af anders te leef, inspireer my opnuut.

God vorm met meetkundige akkuraatheid die towerpatrone van ’n byekorf of mikroskopiese vitamienkristalle. Met sy meesterlike vingers skep God ragfyn blomblaartjies, die goue wolke en pas Hy 10 000 stuifmeelkorrels op ’n speldekop in. En jy weet dat ons ’n wonderlike God aanbid!

Ons lees in die Bybel, “Die hemele verkondig die heerlikheid van God. Die uitspansel getuig van die werk van sy hande. Die een dag vertel vir die ander dag; die een nag vir die volgende nag” (Psalms 19:2–3, NLV) .

Moet dus nooit toelaat dat die wonders van die skepping ongemerk by jou verbygaan nie. Kyk noukeurig na elke sagte veertjie, na elke helderkleurige blom, na die wisselende wolkpatrone teen die blou skilderdoek van die lug, na die berge en die see en aanbid dié God wat al die natuurwonders vir jou daargestel het om te geniet.

Gebed

Here, my Here, hoe wonderlik is u skepping nie! Ek aanbid U vir die skoonheid van die natuur en vir die vreugde wat dit in my laat sing. Dankie daarvoor – help my om nooit daaraan gewoon te raak nie. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

God Is Naby Jou Deur Nina Smit

Hierdie 5-dag-leesplan sal lesers herinner dat God altyd naby hulle is, en wil hulle aanmoedig om Hom in gebed te soek. Elke dag bevat gedagtes oor God se teenwoordigheid in hul alledaagse lewe, en eindig met ’n gebed. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Nina Smit se boek, “God is naby jou - 90 dae van bemoediging."

More

Ons wil graag vir Struik Christian Media en Nina Smit bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za/god-is-naby-jou-flex-cover