Goddelike TydsbestuurVoorbeeld

Divine Time Management

DAG 6 VAN 6

Om vir Jouself Lief te Wees Met Jou Tyd

Om die vermoë te hê om ander waarlik lief te hê, moet ons tyd neem om onsself waarlik lief te hê. Dit verg egter nie net fisieke selfversorging nie, maar ook geestelike, emosionele en intellektuele selfversorging. Wanneer ons onsself met ons tyd eer, het ons 'n beter vermoë om die vrug van die Gees uit te leef. Wanneer ons nie onsself met ons tyd liefhet nie, sal dit moeilik wees om die vrug van die Gees uit te leef. 

"Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie 'n wet nie" (Galasiërs 5:22-23 NLV).

Goeie selfversorging benodig nie noodwendig dramatiese veranderinge nie. Dit kan net die aanleer van 'n paar eenvoudige gewoontes behels en daarna bly jy ingestel op jou behoeftes. 

Jy kan byvoorbeeld vir geestelike selfversorging, onderneem om elke dag jou Bybel te lees en te bid. Ek verkies om my stiltetyd vroeg in die oggend te hou, maar jy voel dalk 'n ander tyd werk beter vir jou. Bly dan bewus van enige ekstra tyd wat jy saam met God mag nodig hê. Wanneer ek byvoorbeeld deur 'n uitdagende tyd gaan, gebruik ek soms ekstra tyd om in my dagboek te skryf. 

Wanneer dit by fisieke selfversorging kom, is sommige hoofpilare van welstand: slaap, eet en oefening. Jy kan 'n wêreldse verskil in jou welstand maak deur op dieselfde tyd te gaan slaap, kos te eet wat jou gesond laat voel, en tyd te maak vir fisieke aktiwiteite. Begin met iets eenvoudig soos om 'n "maak reg vir bed"-alarm op jou foon te stel. Beplan dan om gereeld teen daardie tyd rustig te raak sodat jy genoeg slaap kan inkry. 

Vir emosionele selfversorging, moet ons tyd maak vir bewuswording van die emosionele laste wat ons dra, sodat ons hulle op 'n gereelde basis vir God kan gee. 

"Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om" (1 Petrus 5:7 NLV). 

Baie van hierdie emosionele verligting vind vir my plaas tydens my oggend stiltetyd. Ek het egter soms meer goed om deur te werk en moet dan later in die dag ekstra tyd in gebed deurbring of met 'n vriend praat. 

Laastens, vir ons geestelike selfversorging, moet ons bewus wees van wat ons in ons gedagtes inlaat en wat ons toelaat om daar te bly. 

Romeine 12:2 (NLV) verduidelik dat ons nie 'n passiewe benadering kan hê wanneer dit by ons gedagtes kom nie: "Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is." 

Dit beteken dat ons moet weier om die leuens en negatiewe boodskappe van die wêreld te aanvaar en te fokus op dit wat God sê ons in Christus is. Indien enige gedagtes by jou opduik wat jou laat voel dat jy minderwaardig, onaanvaarbaar, onbemind of nie goed genoeg is nie, moet jy terugveg met die waarheid van die Woord, dat jy waarlik en volledig geliefd is! 

"Kyk net hoe 'n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook" (1 Johannes 3:1a NLV).

God het jou lief en wil hê dat jy jouself moet liefhê. 

Indien jy van die leesplan gehou het, sal jy ook "Divine Time Management: The Joy of Trusting God's Loving Plans for You"

 geniet.

Die boek, "Divine Time Management", ondersoek in meer diepte hoe jy 'n God-gesentreerde benadering tot tydsbestuur kan volg. Minder spanning en meer seëninge! 

Vind meer uit oor die boek en ontdek bykomende hulpbronne by http://www.DivineTimeBook.com  

Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Divine Time Management

Tradisionele tydsbestuur kan spanning veroorsaak wanneer die doel is om deur jou eie krag en selfdissipline, jou lewe onder beheer te kry. Die Bybel leer ons egter dat ons rus en vrede ontvang wanneer ons God met ons tyd vertrou. In hierdie 6-dag leesplan sal jy leer hoe 'n Godgesentreerde benadering tot tydsbestuur daartoe lei dat jy alle goeie dinge wat Hy vir jou wil gee, insluitend sy vreugde en vrede, kan ontvang.

More

Baie dankie aan Elizabeth Grace Saunders wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.divinetimebook.com/