40 Daaglikse Oordenkings vir die LydenstydVoorbeeld

40 Daily Devotionals for Lent

DAG 2 VAN 40

Bêre jou Hart se Skatte in die Hemel

Weeklikse oorsig:

Hoekom behoort ons tyd alleen met God deur te bring? Hoekom is dit so belangrik om God op 'n afgesonderde plek te ontmoet? Voordat ons nie 'n begrip van die onmeetbare waarde en beskikbaarheid van 'n ontmoeting met God het nie, sal ons nooit op 'n gereelde basis hierdie fundamentele, noodsaaklike praktyk beoefen nie. Soos ons gaandeweg ontdek dat dit God se begeerte is om ons te ontmoet sodat ons die diepte van sy liefde kan ervaar, bid ek dat jou lewe gekenmerk sal word deur 'n nuwe genade om die lewende God op 'n gereelde basis, op 'n kragtige manier te ontmoet. 

Skrifgedeelte: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” Matteus 6:19-21.

Oordenking:

Jesus leer vir ons 'n belangrike geestelike beginsel wat ons nodig het om ons harte aan God te kan gee. Matteus 6:19-21 sê:

"Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees."

Jy is die kind van 'n liefdevolle God wat jou hele hart begeer. Matteus 6:19-21 beskryf die waarheid wat wyer as die aarde strek, tot in die volheid van die ewigheid. Ek en jy het die geleentheid in hierdie lewe om óf ons harte vir God te gee en 'n ewige beloning te ontvang, óf om ons harte vir die wêreld te gee, wat net tot vernietiging sal lei. Ons kan óf alles wat ons is en het aan die hemelse Vader se volmaakte, aanneemlike planne oorgee, óf vervulling, plesier, status en rykdom soek in dinge wat slegs aan die wêreld behoort. 

Die beste manier hoe ons kan sekermaak dat ons lewens ten volle oorgegee en tot die Vader se beskikking is, is om die eerste oomblikke van die dag alleen in sy teenwoordigheid deur te bring. Indien ons die meeste uit hierdie lewe wil haal, moet ons tyd inruim om ons gedagtes, optrede en emosies te beoordeel. Ons moet tyd inruim om ons lewens eerlik te beoordeel en te ontdek of ons werklik vir God of vir die wêreld leef. In reaksie op 'n daaglikse ondersoek, moet ons deurgaans belydenis doen sodat ons lewens deur die vergifnis en liefde van die Vader bekragtig kan word. 

God wil graag sien dat jou lewe hier op aarde 'n invloed op die ewigheid sal hê. Hy is 'n Vader wat volmaakte planne het om jou te seën op maniere wat jy jou nie kan voorstel nie. God kan egter nie dit seën wat nie die beste is nie. Hy kan jou nie beloon vir iets wat jy doen wat vernietigend is nie. Maak die keuse dat jou lewe op jou ontmoeting met God gefokus is sodat jy 'n rykdom van ewige skatte bymekaar kan maak. Maak jou hart elke oggend oop vir die Heilige Gees, sodat Hy enigiets kan openbaar wat jou daarvan weerhou om die volheid van die lewe te ervaar waarvoor Jesus vir jou gesterf het. Gee jou lewe oor aan die God wat beter dinge vir jou in die vooruitsig stel as waarvoor jy ooit kan vra of jou kan verbeel. Ervaar dan die vrede en vreugde wat voortkom as jy God toelaat om jou hele lewe te beheer en dit te seën en te vul met sy heerlike teenwoordigheid. 

Begeleide gebed:

1. Dink na oor die waarheid van die Woord van God. Laat toe dat die Skrif jou met 'n begeerte vul om jou lewe ten volle aan God se planne en liefde oor te gee. 

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” Matteus 6:19-21.

2. Op watter maniere is jy besig om skatte op aarde bymekaar te maak? Op watter plekke in die wêreld is jy op soek na vervulling en voorsiening eerder as om dit by God te kry? In watter dele van jou lewe is daar nie die beste wat God vir jou wil gee nie? 

3. Bely enige sonde in jou lewe teenoor God en ruim tyd in om sy vergifnis te ontvang. God haat sonde omdat dit ons beroof van die volheid van die lewe wat Hy verlang om vir ons te gee. Sodra ons ons sondes teenoor Hom bely, vergewe Hy ons waarlik. Moenie tob oor jou sonde nie, dink eerder na oor God se goedheid en genade. 

“Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” 1 Johannes 1:9.

Oswald Chambers skryf: “Vreugde beteken die volmaakte vervulling van dit waarvoor ek geskape en wedergebore is.” Jy is geskape en wedergebore vir ongehinderde gemeenskap met jou hemelse Vader. Om ware vrede in hierdie lewe te ervaar, sal jy enigiets moet losmaak wat jou hart aan hierdie wêreld vasbind. Leef vandag slegs vir God en ontdek die rykdom van lewe wat voortspruit uit jou skat wat in die hemel bymekaar gemaak word.

Verdere leeswerk: Efesiërs 1

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

40 Daily Devotionals for Lent

Hierdie leesplan, wat verskaf is deur First15, is ontwerp om jou op jou reis deur die Lydenstyd te vergesel en jou te bemoedig terwyl jy tyd in die teenwoordigheid van God deurbring en Hom doelbewus oor die volgende 40 dae opsoek. Ons hoop dat jy hierdie bron van groot hulp sal vind!

More

Ons wil "First15" bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://first15.org/