Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld

New Year, New Mercies

DAG 3 VAN 15

As jou beplanning die ewigheid insluit, maak dit geen sin om jou aardse lewe in te krimp tot die basiese behoeftes en begeertes van een klein oomblik nie.

Daar bestaan geen twyfel dat die Bybel 'n boek is wat die "groter prentjie" wys en wat ons roep om met 'n "groter prentjie" ingesteldheid te leef. Dit strek jou denke deur jou te laat dink aan dinge wat gebeur het voor die wêreld se bestaan en derduisende jare in die toekoms in. Die Bybel laat jou eenvoudig nie toe om net in die oomblik te lewe nie. Dit gee jou nie geleentheid om jou gedagtes, begeertes, woorde en dade in te krimp tot enige spontane denke, emosies of enigiets wat jou op 'n gegewe oomblik vasvang nie. Binne 'n oomblik kan jou gedagtes meer belangrik voorkom as wat hulle werklik is. Binne 'n oomblik kan jou emosies meer betroubaar voorkom as wat hulle regtig is. Binne oomblikke kan jou behoeftes meer onontbeerlik lyk as wat hulle waarlik is. Ons is gemaak om 'n lewe te lei wat gekoppel is aan dinge wat 'n begin en 'n einde het. Ons is ook gemaak om so te lewe, omdat alles wat ons doen 'n verband moet hê met die God van die begin en die einde – 'n God deur wie en vir wie ons geskape is. 

Dit is moeilik om met die ewigheid in gedagte te lewe. Die lewe word weer en weer tot in die oomblik ingekrimp. Daar is tye wanneer die belangrikste ding in die lewe is om deur die spitsverkeer te kom, om 'n argument te wen of hierdie seksuele begeerte te bevredig. Daar is oomblikke wanneer ons geluk en tevredenheid binne die volgende 10 minute van 'n paar skoene of 'n biefstuk afhang. Daar is ook tye wanneer ons denke oor wie ons is, oor wie God is, en waarheen ons op pad is, op die agtergrond geskuif word deur ons gedagtes, emosies en behoeftes van 'n spesifieke oomblik. Dan is daar ook tye wanneer ons verlore raak in die middel van God se verhaal. Ons verloor ons denke, ons sin van rigting en ons gedagtenis aan Hom. 

God herinner ons daaraan dat dit wat ons op aarde beleef, nie al is wat daar is nie, maar dat ons in Jesus Christus vir die ewige lewe geskape en herskep is. Hy herinner ons dat ons nie vir die skatte van die oomblik moet lewe nie: "Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie" (Matteus 6:19-20). 

Dink 'n bietjie hieroor: As God alreeds vir jou 'n plek in die hiernamaals gegee het, het Hy ook vir jou al die genade gegee wat jy op pad soontoe nodig het, anders sal jy nooit daar uitkom nie. Daar is genade vir ons wispelturige harte wat gou afgetrokke raak. Daar is redding vir ons selfbeheptheid en gebrek aan fokus. Die God van die ewigheid gee jou sy ewige genade, sodat jy met die ewigheid in gedagte kan leef. 

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

New Year, New Mercies

Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak nie, leer om op God se goedheid te vertrou, staat te maak op sy genade en elke dag tot sy heerlikheid te leef.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/