Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld
Markus 14-15 | Die Kruis
Welkom terug, vriende. Vandag se reis bring ons na Markus 14 en die kruispad van alle eeue. Die skare van Jerusalem het al hoe meer geword toe die feesdag aangebreek het. 'n Komplot was aan die broei tussen die Joodse leiers — 'n komplot om van Jesus ontslae te raak. Soos wat gemoedere hoog geloop het, het Jesus sy dissipels eenkant gebring om die Pasga saam in die bovertrek te vier.
Terwyl die dissipels aan tafel was vir die fees, het Jesus bekend gemaak dat een van hulle Hom sou verraai. Verraad is 'n diep wond en Jesus het dit goed geweet. Nou het Judas by Jesus gesit as 'n vriend. En in vers 22:
"Daarna het Hy die brood gebreek en vir hulle gegee met die woorde: 'Neem dit, dit is my liggaam.' En daarna die beker met wyn: 'Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.'"
Ons noem dit Nagmaal. Christene regoor die wêreld eer dit tot vandag toe, met brood, om te onthou hoe Jesus se liggaam aan die kruis gebreek was, en met wyn om Jesus se bloed te onthou. Jesus vestig 'n nuwe verbond in sy bloed; 'n nuwe verhouding tussen God en die mens. Daarin is diep simboliek en betekenis, maar vir eers is dit genoeg om Jesus te onthou.
Die nag gaan aan. Judas verlaat die groep met 'n bose plan. Hulle eet klaar, Jesus bid en neem hulle na die tuin daar naby, wat Getsemane genoem word.
Dis nou in die middel van die nag, maar 'n volmaan verlig die donkerte. Jesus neem drie dissipels saam en maak sy hart teenoor hulle oop:
"Ek voel doodsbenoud.”
Hy vra hulle om te bid en bestee dan tyd alleen in gebed, waar hy die Vader vra: "Neem hierdie lydensbeker van My af weg.”
Hy gaan terug en vind die dissipels aan die slaap. Hy maak hulle wakker en gaan bid weer. Hy kom terug. Hulle slaap weer. Nou is die tyd egter verby en Judas kom daar aan met 'n klomp soldate. Die verraad is voltooi. Hulle arresteer Jesus en neem hom weg vir 'n verhoor voor die hoëpriester.
Dit is nou Vrydag, net voor sonsopkoms. Jesus staan voor Kajafas, die hoëpriester. In vers 56:
"Baie het teen hom getuig, maar hulle getuienis het nie ooreengestem nie."
Beskuldigings word heen en weer geslinger, maar in vers 61 & 62:
"Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. 'Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?' het hy Hom gevra. 'Ek is,' het Jesus geantwoord.'"
En daarvoor, net vir dit, het die Hoëpriester Jesus vir laster veroordeel — omdat hy bevestig het wie Hy is.
Die Joodse leiers het Jesus toe vasgebind en Hom weggelei na die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus toe. Markus 15 vers 2:
"Pilatus het vir Hom gevra: 'Is jy die koning van die Jode?'.
Jesus antwoord hom: 'Dit is soos u sê.'”
Weer was daar beskuldigings na hom geslinger, maar Hy het nie geantwoord nie. Deur alles heen het Hy net die een vraag beantwoord oor wie Hy is. Dit is die enigste ding wat saakmaak.
Die beskuldigings het nie sin gemaak nie en Pilatus het geweier om 'n onskuldige man te veroordeel. Die priesters het egter met 'n rebellie gedreig. In vers 12: ;
"Pilatus het weer vir hulle gevra: 'Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?'
'Kruisig hom!' skreeu hulle.
'Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?' vra Pilatus hulle.
Maar hulle het net harder geskree: 'Kruisig hom!'"
En Pilatus het moed opgegee. Jesus is wreed geslaan deur soldate en hulle het hom weggelei na die paleis toe. Hulle het Hom bespot met 'n doringkroon, 'n pers mantel en nog slae en spoeg. Jesus het dit duidelik gestel wie Hy is en die wagte stel dit net so duidelik wat hulle daarvan dink.
Hulle het opgehou met hulle sadistiese pret en Jesus na Golgota toe gelei. In vers 24:
"Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het."
'n Kruisiging is 'n bewys van die mensdom se onbeskaamde wreedheid. Dit was 'n wreedaardige straf vir 'n misdaad, en die Romeine wou hê almal moes weet hoekom iemand gekruisig is. Hulle het dus 'n bordjie opgesit met sy "oortreding". Die klag teen hom was: "Die koning van die Jode"
Drie ure van uitmergelende pyn het verloop. En in vers 33:
"Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur."
Stap 'n oomblik in die geskiedenis in en staan daar in die duisternis. Hoor die siniese spotters, die vrouens wat weeklaag en die ongenadige selfvertroue van die wagte. En daar voor jou, 'n man aan 'n kruis. Die teken bo sy kop sê: "Koning van die Jode."
Wie is hierdie man?
En terwyl jy daar staan en wonder; vers 37:
"Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: 'Hierdie man was werklik die Seun van God.'”
Dis nou klaar. 'n Ander offisier word deur Pilatus gestuur om seker te maak van sy dood, met 'n lang spies in sy sy. Wie hy ook al was, hy's nou dood. En terwyl jy omdraai en wegloop, stop 'n vreemdeling jou. "Wie dink jy was Hy?"
Wat sê jy dan? Wie was Jesus?
Vir Oordenking en Bespreking
- Hoekom dink jy het Jesus net die vrae by sy verhore geantwoord oor wie Hy is? Waarom was dit so belangrik?
- Wat beteken Jesus se kruisiging vir jou? Deel jou verhaal.
Aangaande hierdie leesplan
As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kolossense. Volg Jesus se verhaal en ontdek die basiese beginsels van wat dit behels om Hom te volg. Daar is elke dag vrae vir individuele besinning of groepbespreking. Doen een en nooi dan 'n vriend uit en doen dit dan weer 'n keer!
More