Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld
Kolossense 3 | Herskep Na Sy Beeld
Hallo, welkom terug, vriende. Ons begin met 'n vraag: Gaan dit oor nuwe gewoontes of 'n nuwe self, as jy Jesus volg? Lééf jy anders of IS jy anders? Wel, altwee is reg — maar die volgorde maak die verskil.
Terug na Kolossense 2. Paulus verduidelik dat jy nie net 'n stel reëls hoef te volg as jy Jesus volg nie; dis 'n nuwe lewe. Begrawe die ou self en trek die nuwe self aan. En vandag, in hoofstuk 3, vertel hy vir ons hoe om daardie nuwe lewe te leef. Vers 1:
"Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo, waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit."
Dis die sleutel: rig jou hart — en jou gedagtes — na bo. Dink oor Jesus. Dink oor die hemel. Stoor al jou skatte daar. Maak jou grootste belegging in die hemel. Wanneer die lewe jou onderkry, onthou altyd om op te kyk. Vers 3:
"... want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God."
Ek hou daarvan. "Jou lewe is verborge." Mense sal wonder wat jou so lewenslustig maak — en dit is Jesus. Hy is jou lewe.
Die res van die hoofstuk handel net oor een ding: wees dood vir die ou lewe, en lewe in die nuwe. Vers 5:
"Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is."
Let op hoe dit werk. 'n Christen hou op om slegte dinge te doen — nie deur reëls te volg nie, maar om daardie deel wat slegte dinge wil doen, te laat sterf. Dus sê vers 8:
"… nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie …"
Dit is makliker gesê as gedoen, om sonde te laat staan. Ek wil dus twee voorstelle aan die hand doen. Eerstens: bestudeer Romeine 6 tot 8. Die sleutel hier is om met die Heilige Gees vervul te wees.
Tweedens: begin 'n gesonde gewoonte om jou sondes aan God en iemand wat jy vertrou, te bely. Jakobus 5 sê:
"Bely julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word." (Jakobus 5:16)
Genesing van sonde begin met belydenis en gebed.
En weer terug na vers 9:
"... en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God."
Dit is die kern hiervan. Trek jou nuwe mens aan. Wees die nuwe mens wat God besig is om nuut te maak. God is gedurig besig om jou na sy beeld te vernuwe. In Genesis 1 lees ons dat God die mens na sy beeld geskape het, maar dat daardie ewebeeld deur sonde gebreek is. Toe het Jesus gekom. Jesus is God se beeld. En Hy het as mens gekom om vir ons nuwe lewe te gee en ons in Hom nuut te maak, herstel na die beeld wat ons veronderstel was om te wees.
Dit verander alles. In vers 11 vernietig dit die skeiding tussen ons: skeiding tussen ras, kleur, geslag en status, wat mense na haat, verdrukking en oorlog dryf. Galasiërs 3 sê:
"Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één." (Galasiërs 3:28)
Ons is gelyk en ons is een in Christus. Eenheid is ons roeping. Christene kry dit vir 'n lang tyd al nie reg nie, maar dit is ons roeping.
En Paulus skets vir ons 'n prentjie van hierdie nuwe lewe, geklee met
"… meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid."
Met ander woorde; behandel mense op dieselfde manier as wat Jesus mense behandel. En vergeef soos God ons vergewe het. En bo alles, betoon liefde. Om Jesus te volg is om lief te hê.
Ons is geroep tot vrede, laat die vrede van Christus dus in julle harte heers. Ons is geroep tot eenheid, dien mekaar dus met nederigheid. Jy mag oplet dat die meeste van die woorde jou nuwe mens beskryf, in terme van hoe jy ander moet behandel. Jou nuwe binneste beïnvloed hoe jy ander uiterlik behandel. Dien mekaar dus in liefde. En dit is jou volgende nuwe gewoonte: dien ander.
Dan, in vers 18 word jou verhoudings nuut gemaak, by die huis en by die werk. Huwelike het 'n nuwe dinamiek:
"Vrouens, wees aan julle mans onderdanig," en "Mans, julle moet julle vrouens liefhê ..."(Kolossense 3:18-19)Kyk aandagtig na daardie woorde en onthou wat jy nou net in Galasiërs gelees het: mans en vrouens is gelyk in Christus. Tog word mans en vrouens albei geroep om onderdanig te wees en opofferings te maak. Onderdanig is nie dieselfde as gehoorsaam nie. Onderdanigheid is 'n daad van respek tussen gelykes, 'n vrywillige gesindheid van diens en samewerking. Onderdanigheid is 'n daad van edele nederigheid, wat respek en eer aandui. Dit is die hoë roeping van die Christenvrou.
En die man word geroep om lief te hê. Nie net 'n gevoel nie, maar ware opoffering. Wees lief, soos Jesus lief gehad het, en sy hele lewe vir jou bruid neergelê het. Met ander woorde; die vrou gee in terwyl die man alles gee. Vir meer besonderhede, lees Efesiërs 5 en 1 Petrus 3.
Lees vandag Kolossense 3. En begin nuwe gewoontes — Bybellees, belydenis, diens — nie om 'n nuwe persoon te word nie, maar omdat jy 'n nuwe persoon is. Jy is na sy beeld herskep.
Vir Oordenking en Bespreking
- Wat dink jy beteken dit om met die ou mens te breek en die nuwe te leef? (Kolossense 3:9-10)
- Watter veranderinge kan jy in jou lewe sien, wat wys dat jy "vernuwe" is na die beeld van jou Skepper? (Kolossense 3:10)
- Vandag het ons twee nuwe gewoontes bygevoeg: belydenis en diens. Hoekom is hulle belangrik?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kolossense. Volg Jesus se verhaal en ontdek die basiese beginsels van wat dit behels om Hom te volg. Daar is elke dag vrae vir individuele besinning of groepbespreking. Doen een en nooi dan 'n vriend uit en doen dit dan weer 'n keer!
More