Begin Hier | Eerste Treë Saam Met JesusVoorbeeld

Start Here | First Steps With Jesus

DAG 14 VAN 15

Dag 14 | Kolossense 4

Hallo, my vriende. Vandag is dit Kolossense 4 en terug na die grondbeginsels. Jesus het twee eenvoudige opdragte gegee: Wees lief vir God met alles wat jy het, en wees lief vir jou naaste soos jouself. Daardie twee basiese sleutels rig elke tree terwyl ons Jesus volg. 

Hoofstuk 4 begin waar 3 eindig: met leiding oor verhoudinge. Hier is dit slawe en meesters. Nou vra jy: Is slawerny, volgens die Bybel, toelaatbaar? Laat dit ongelykheid, rassisme en onderdrukking toe? 

Kom ek wees eerlik. Nee. Die Bybel praat nie slawerny goed nie en enigiemand wat die Bybel gebruik om onderdrukking of menslike ongelykheid toe te laat, misbruik hierdie woorde — tot hulle skaamte. Die Bybel spreek slawe en meesters aan, omdat slawerny destyds 'n realiteit was, en Paulus gee instruksie oor hoe om in die werklike lewe te leef. Vir die slawe sê hy: werk hard — asof jy vir God werk, want Hy is jou ware meester. 

En in hoofstuk 4:

"Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel."

Hier, en elders in die Bybel, word meesters en slawe daaraan herinner dat hulle gelyk is volgens God se maatstaf, ongeag hoe die samelewing hulle skei. Tog wonder jy seker hoekom Paulus nie slawerny in opdrag van God verban nie. 

Dit is belangrik. Met Jesus se eerste koms na die aarde, het Hy nie gekom om die stelsels van die wêreld reg te stel nie. Hy het gekom om ons harte te verander en in die regte verhouding met God te plaas. Met sy tweede koms sal Jesus sy koninkryk op aarde vestig, maar Hy het eers gekom om sy koninkryk in ons te vestig. Eerste: koning van jou hart. Tweede: koning van die wêreld. 

Paulus leer ons dus om reg te lewe in 'n wêreld wat nog steeds verkeerd is. Slawe en meesters, werknemers en werkgewers, doen wat reg is. Later sê Paulus vir slawe om hulle vryheid te bekom as hulle kan, en sy brief aan Filemon sê dat 'n slawemeester sy slaaf moet vrymaak en hom broer moet noem — 'n gewigtige stelling vir daardie tyd. 

Neem 'n vinnige kykie deur die geskiedenis en jy sal oplet dat so baie van die helde wat geveg en opofferings gemaak het om slawerny verban te kry, deur hulle geloof in die Bybel geïnspireer en gedrewe was. God het hulle harte verander en toe verander hulle die wêreld. 

Terug na Kolossense 4:2:

"Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar."

En dit gee vir ons ons volgende gewoonte: gebed. Lees jou Bybel en bid elke dag. Dit is weereens nie iets wat jy verplig is om te doen nie, maar dit is iets wat jy behoort te doen. Gebed is ongelooflik. Ons kan direk met God praat - die Skepper van die heelal. Paulus sê: "volhard" in gebed. Maak dit 'n prioriteit. 

Waaroor behoort jy te bid? Alles. Wat jy nodig het, waarvoor jy dankbaar is, waaroor jy dink, verward oor is of voor hoop. Bid vir mense. Bid vir my! Ek het dit nodig. Bid — oor — alles. 

Dink daaroor. Kommunikasie is noodsaaklik vir elke verhouding. Ons leer mekaar ken as ons met mekaar praat. Die wonderlike ding van 'n reis saam met iemand, is die tyd wat jy kry om te praat, om eerlik te wees oor wat in jou hart aangaan en om dieper te groei. Dit is net so met God. Wanneer ons Jesus volg, praat ons met Hom. Ons is openhartig en deel ons hoop en vrese. Ons maak ons hart se deur oop en laat Jesus inkom. 

Dink oor gebed asof dit 'n gesprek met 'n goeie vriend is. As dit ongesond is, gaan dit oor wat jy wil hê. As dit gesond is, gaan dit daaroor om mekaar te leer ken. Gebed is nie huiswerk of 'n opstel wat moet punte kry nie, so moet dus nie bekommerd wees om "op die regte manier" te bid nie. Wees net opreg. Nader God se troon nederig en eerbiedig — Hy is God; maar ook met selfvertroue — Jesus het jou regverdig voor God gemaak. En Romeine 12 sê dat ons in gebed moet "volhard" - soos 'n telefoongesprek wat nie beëindig word nie. 

Die res van Kolossense is net vriendelike groetnis. Onthou, dis 'n regte brief aan regte mense. En daardie mense het mekaar liefgehad! Hulle het dus groete gestuur. Ek hou hiervan in die Bybel. Dis persoonlik. God kon sy wêreld uit klip gemaak het, maar Hy het besluit om dit eers op mense se harte, wat liefhet, te skryf. En daardie liefde skyn uit die bladsye. 

En dit bring ons by nog een gewoonte: samesyn. Bring tyd deur saam met ander Christene. Deel in mekaar se lewens. Wees lief vir God en mense. Hebreërs waarsku ons om nie die byeenkomste van ons Christenfamilie — die kerk — na te laat nie. 

Die woord "kerk" in die Bybel, verwys nie na 'n gebou nie, dit is die mense wat Jesus volg. Die kerk kan in 'n gebou bymekaarkom, maar as ons nie opregte verhoudinge kweek nie, mis ons die doel. Soos wat jy deur hoofstuk 4 lees, kyk na die name — mense wat opreg was — Markus, Justus, Epafras, Lukas, Nimfa, en let hierna op: 

"... die kerk in haar huis" (Kolossense 4:15).

Destyds het kerke in huise bymekaar gekom — net soos familie. 

Dit is dus die basiese beginsels: wees lief vir God en vir mense. Om dit te kan doen, moet jy 'n gewoonte daarvan maak om te bid: leer God ken. Begin 'n gewoonte om die samekomste by te woon: leer ander ken. Nooi dalk iemand by jou werk of skool om hierdie leesplan saam met jou te doen, aan die besprekingsvrae deel te neem en saam te bid. Dit is 'n Bybelgewoonte, 'n bidgewoonte en 'n samesyngewoonte. Sjoe. Dit was baie maklik.

As jy hulp nodig het om hiermee te begin, sal ons môre weer daardeur werk. Lees vandag Kolossense 4 en hou dit eenvoudig: wees lief vir God en mense. 

Vir Oordenking en Bespreking 

  • Hoekom dink jy is gebed noodsaaklik as jy Jesus volg? Hoe beïnvloed gebed jou wandel saam met God?
  • Hoekom dink jy is samesyn noodsaaklik as jy Jesus volg? Hoe beïnvloed samesyn met ander Christene jou wandel met God?
Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Start Here | First Steps With Jesus

As jy onlangs tot bekering gekom het, nie die Bybel ken nie, of 'n vriend help — Begin Hier. Vir die volgende 15 dae sal hierdie 5-minute klankgidse jou stap-vir-stap deur twee fundamentele Bybelboeke neem: Markus en Kolossense. Volg Jesus se verhaal en ontdek die basiese beginsels van wat dit behels om Hom te volg. Daar is elke dag vrae vir individuele besinning of groepbespreking. Doen een en nooi dan 'n vriend uit en doen dit dan weer 'n keer!

More

Ons sê baie dankie aan "Through The Word" wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek asseblief http://throughtheword.org vir meer inligting