Vind VredeVoorbeeld

Finding Peace

DAG 5 VAN 17

Hoe Jou Denke Jou Vrede Beïnvloed

As ons met onsself eerlik wil wees, moet ons erken dat die meeste van ons nie is wat of wie ons dink ons is nie. Ten beste is ons denke korrup, ontspoor, en in die meeste gevalle het dit vernuwing nodig.

Hoe weet ek dit is waar? Behalwe vir my jarelange ondervinding as pastorale berader, is daar ook die Woord van God wat ons aanmoedig om ons gedagtes en denke te vernuwe. Dit beteken dat ons ons ou opvattings, opinies, idees, geloofsoortuigings en selfgesentreerde houdings moet verruil vir 'n nuwe stel opvattings, opinies, idees, geloofsoortuigings en houdings, wat God in ons ontwikkel. Hierdie Goddelike reaksies word gevorm deur die Skrif gereeld te lees en daaroor na te dink. Christus se volgelinge word as volg aangeraai: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is" (Romeine 12:2).

'n Uitvloeisel van die vernuwing van ons denke, is 'n verandering in ons gesprekke en gedrag. Soos ons gesprekke en gedrag vernuwe, word ons verhoudings met ander vernuwe. Dan, soos ons verhoudings vernuwe, word ons onmiddellike wêreld ook terselfdertyd vernuwe. Dit alles begin in ons denke en met dit wat ons kies om oor na te dink.

Jy het die vermoë om te bepaal wat jy gaan dink. Jy kan te eniger tyd jou gedagtes of denke herfokus op 'n nuwe onderwerp, taak of probleem om op te los, in plaas van negatiewe denke wat jou vrede wil steel en/of gaan veroorsaak dat jy rebelleer of sondig. Jy het die vermoë om in enige situasie wat jy in die gesig staar of wat jy mag ondervind, te sê: "Ek kies om op God te vertrou."

Bowendien sal enige kind van God wat bewustelik 'n standpunt inneem teen denkpatrone wat openlik skadelik is, van 'n manier voorsien word om te ontsnap uit daardie omstandighede. God sal jou help om jou gedagtes of denke op iets anders as jou probleem of slegte denkpatrone te herfokus, sodra jy die eerste stap in sy rigting neem. 

Wanneer jy oor jou gedagtes waak, beskerm jy ook jou vrede. Wanneer jy in geloof en met danksegging tot God bid — ongeag die moeilikhede wat jy in die gesig staar — verseker Hy jou van sy innerlike vrede (Filippense 4:6-7). En wanneer jy jou gedagtes fokus op wat waar, edel, deugsaam, lieflik, rein en prysenswaardig is, maak jy met groter geloof en vertroue op God staat. 

Jy kan nooit jou vermoë om aan God se goedheid en grootheid te dink, uitput nie. Maak ‘n keuse om op dieselfde manier as Jesus op die lewe te reageer. Beskerm jou gebedslewe. Beskerm jou denke. Soek die Vader en alles wat goddelik is. Wanneer jy jou gedagtes en denke vul met wat deugsaam en prysenswaardig is, beloof sy Woord die volgende: "En God wat vrede gee, sal by julle wees" (Filippense 4:9b).

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Finding Peace

Soek jy meer vrede in jou lewe? Is rustigheid iets waarna jy streef en nie net 'n wens nie? Jy kan ware vrede net op een plek kry — by God. Dr. Charles Stanley wys vir jou in hierdie leesplan hoe om lewensveranderende gemoedsrus te verkry, en bemagtig jou om oplossings te vind vir die berou van die verlede, om daaglikse bekommernisse te oorbrug en hoe om jou vrees vir die toekoms te oorkom.

More

Baie dankie aan "In Touch Ministries" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://intouch.cc/peace-yv