Vind VredeVoorbeeld
Die Vrede Wat God Gee
Ek is seker, as jy die Bybel bestudeer, jy al opgelet het dat God se perspektief baie keer in die vorm van vergelyking en kontras gegee word. Byvoorbeeld: Hy het gereeld die rykes en die armes vergelyk, die wyses en die dwase, duisternis en lig, en met die oog op ons onderwerp, die vrede wat van God af kom in vergelyking met die vrede wat in die wêreld gevind word. Jesus het gesê: "... my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie …" (Johannes 14:27).
Dit is duidelik die Meester het verklaar dat die vrede wat Hy sy volgelinge gee, verskillend is van die vrede wat hulle in die wêreld kon vind. Toe Jesus verwys het na "die wêreld", het Hy gepraat van die samelewing en kultuur waarin ons as mense leef.
Was jy al ooit op 'n onstuimige see? Ek het al vele male storms op see ervaar, en eerlikwaar, ek het geen begeerte om die ondervinding weer deur te maak nie. Die wind kan teen 60, 90, 160 km per uur waai, met erge reën, blitse, donderweer en oorweldigende duisternis. Golwe kan 6, 9, selfs 15 meter hoog wees. 'n Skip kan in so 'n storm soos 'n speelding heen en weer geslinger word. Dit is maklik vir 'n vaartuig om in sulke storms te vergaan. Maar onder die oppervlak, net 30 meter af, is daar geen storm nie. Alles is doodstil. Geen geluid. Geen rumoer. Nie eers 'n rimpel van die onrus op die oppervlak nie.
Hierdie merkwaardige feit laat my aan God se vrede dink. Dit gee my 'n aanduiding waarvan ons Here moes gepraat het toe Hy sy vrede aan sy dissipels beloof het. Hy het aan hulle gesê, omdat hulle sy volgelinge is, gaan hulle probleme in hierdie wêreld ondervind. Hy het in werklikheid beweer dat sommige van hulle vervolg sou word omdat hulle sy dissipels was. Maar ten spyte hiervan, het Hy belowe dat Hy nooit dié sal verlaat wat Hom volg nie, en sy konstante teenwoordigheid sou die manier wees hoe hulle sy vrede kon ervaar.
Wanneer vrese, angs en probleme in jou lewe opduik, soek vir die volgende tekens van God se vrede, want dit …
. Is verhewe bo omstandighede. Soms word vrede makliker te midde van beproewing en probleme ondervind. Maar ongeag wat jy ervaar, weet dit: God is jou vrede. Plaas jou geloof in Hom.
. Gaan jou verstand te bowe. Die vrede van God is nie iets wat ons altyd kan beredeneer nie. Maar dit is werkend en beskikbaar vir ons — ver bo ons vermoë om dit te verstaan.
. Is beskikbaar vir al sy volgelinge. God se vrede is beskikbaar vir elke persoon wat Jesus as Saligmaker aanvaar, wegdraai van hulle sonde, en na 'n lewe van gehoorsaamheid aan God se Woord en die Heilige Gees streef.
. Is 'n blywende toestand. In die moeilike omstandighede van die lewe is die Heilige Gees teenwoordig om te help. Vrede — diep, ware, Godgegewe vrede — kan die "standaard" wees waarvolgens jy van dag-tot-dag leef.
Soos jy vorentoe beweeg op jou lewensreis, glo en vertrou dat God se begeerte vir jou is om te alle tye blywende vrede te ervaar — 'n vrede wat blydskap insluit en 'n wete dat elke aspek van jou lewe 'n doel het.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Soek jy meer vrede in jou lewe? Is rustigheid iets waarna jy streef en nie net 'n wens nie? Jy kan ware vrede net op een plek kry — by God. Dr. Charles Stanley wys vir jou in hierdie leesplan hoe om lewensveranderende gemoedsrus te verkry, en bemagtig jou om oplossings te vind vir die berou van die verlede, om daaglikse bekommernisse te oorbrug en hoe om jou vrees vir die toekoms te oorkom.
More