Dis nie veronderstel om so te wees nie: 'n 5-Dag Uitdaging deur Lysa TerkeurstVoorbeeld
Dis baie moeilik om deur diep teleurstellings te gaan.
As jy alleen is, wil jy uiting gee aan jou frustrasie, met woorde wat jy nooit voor jou kerkvriende sal gebruik nie. Daar is darem ook oomblikke van hoop… wanneer ons lofprysing liedere hardop sing, openhartige gebede bid en verklaar dat God goed is.
Dis hoe dit is om mens te wees — gebroke maar nog steeds vol hoop.
Dis waar ons Dawid in Psalm 40 vind. In die eerste tien verse prys Dawid God vir verlossing, maar van verse 11 tot 17 roep hy uit na God om hom weer te verlos. Dawid is gebroke, maar tog hoopvol.
Wanneer ons hoop, beteken dit nie dat ons die werklikheid ignoreer nie. Nee, dit beteken dat ons die werklikheid erken, maar in dieselfde asem God se soewereiniteit erken.
Ons hoop is nie verbonde aan die verandering van omstandighede of persone nie. Ons hoop moet aan God se onveranderde beloftes verbonde wees. Ons hoop op die goeie dinge wat God uiteindelik uit ons omstandigheid sal voortbring, ongeag of die goeie dinge dieselfde is as ons begeertes of nie. Soms vat dit tyd. Die proses sal vereis dat ons vasbyt. Geduldig wees. Selfs lankmoedig wees.
Eerlikwaar, ek weet dat dit jou kan oorweldig.
Ek verlang die beloofde seën van Psalm 40:5: "Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel." Ek vergeet gewoonlik dat hierdie vertroue in God dikwels in die smeltkroes van lankmoedigheid gesmee word. God pik nie op my nie. God kies my om een van sy beloftes uit te leef.
Dis 'n geweldige eer. Dit voel egter nie altyd so nie. Ek moet deur die laagtepunte van die proses gaan, voor ek volkome bevoeg is om die belofte uit te leef.
Ons lees van sommige van hierdie laagtepunte in Psalm 40:2-4 (AFR53):
"Ek het die HERE lank verwag,
en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor;
en Hy het my uit die kuil van vernietiging,
uit die modderige slyk opgetrek
en my voete op 'n rots gestel;
Hy het my gange vasgemaak.
En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee,
'n lofsang tot eer van onse God.
Baie sal dit sien en vrees
en op die HERE vertrou."
Die idee van geduldig wees, in vers 2, is baie belangrik in hierdie psalm. Die Hebreeuse woord veronderstel dat die wagtyd voortdurend is en 'n gevoel van blye verwagting en hoop inhou.
As ek op die vaste rots wil staan, moet ek eers geduldig vir die Here wag om my uit die modderslyk te haal en my voete op gelyke grond te laat vasstaan. In die oorspronklike Hebreeus, is die woord "vasstaan", qum, wat beteken om te vas te trap of standpunt in te neem. God moet my deur die proses neem om verlos te word van dit wat my gevange gehou het, voordat ek standpunt kan inneem.
Ek wil ook die nuwe lied kry wat hier belowe word. Het jy opgelet wat kom egter voor die psalmdigter se nuwe lied? Dis die hulpkrete na die Here. Die kragtigste lofliedere is soms die pynkrete wat in pragtige melodieë verander.
Dit geld vir jou ook.
Mede gelowige, hou aan om uit te roep na Hom. Bly vertrou op Hom. Wees bewus daarvan dat God elke hulpgeroep in 'n wonderlike lied sal verander.
REAGEER: Dink na oor die verse in Psalm 40 wat ons vandag bestudeer het. Watter verse spreek jou omstandigheid direk aan? Hoe het jou perspektief verander aangaande die uitkoms wat jy verlang?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Sê jy ook partykeer vir jouself: "Dis nie hoe ek gedink het dit sou uitwerk nie"? Of dit nou 'n verhoudingskrisis is, of jy 'n geliefde verloor het, dit 'n onverklaarbare siekte is en of jy deur 'n moeilike lewensomstandigheid gaan, Lysa TerKeurst verstaan en nooi jou uit om vir hierdie 5-dag leesplan by haar aan te sluit. Saam sal ons leer waar teleurstellings vandaan kom en om die onverwagte krag te ontdek wat jy nodig het om moeilike tye op 'n Bybelse manier aan te pak.
More