Dis nie veronderstel om so te wees nie: 'n 5-Dag Uitdaging deur Lysa TerkeurstVoorbeeld
Stry die Goeie Stryd
Na gister se leesstuk dink jy dalk … hoekom het God ons volmaakte harte geskape in die tuin van Eden, as Hy geweet het dat ons as gevolg van sonde, nie daar sou lewe nie?
Ek bedoel, toe Adam en Eva gesondig het, kon God nie die begeerte vir volmaaktheid uit ons harte verwyder nie? Natuurlik kon Hy dit gedoen het. Om egter die oorsaak van ons teleurstelling weg te neem, sou ons ook ontneem van die heerlike hoop van dit waarnatoe ons op pad is.
Onthou, dis 'n liefdesverhaal. Ons sal nooit die hoop van ons Ware Liefde waardeer of begeer, as ander geliefdes ons nie teleurstel nie. Die angs van teleurstelling in alles hier op aarde, veroorsaak 'n ontvredenheid met hierdie wêreld en laat ons na God self verlang — en na die plek waar ons uiteindelik weer in die tuin met Hom sal wandel.
Die Bybel begin met die boek Genesis, wat in die eerste tuin van Eden afspeel. Dit eindig in die laaste hoofstukke van die laaste boek, Openbaring, waar Eden herstel word.
"'Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.' Toe sê Hy wat op die troon sit: 'Kyk, Ek maak alles nuut'” (Openbaring 21:3-5).
Let op na al die gevoelswoorde wat die wêreld beskryf waarin ons tans lewe: smart, trane en pyn. Uiterste teleurstelling bring baie kere diepe hartseer. Alles aan hierdie kant van die ewigheid is in 'n toestand van verval. Dit is bloot die natuurlike resultaat van sonde. Hierdie gedurige aanslag op ons gevoelens, bring depressie, angs, ongevoeligheid en ook skeptisisme oor God se goedheid.
Tensy ...
ons insien dat al daardie harde werklikhede nie die einde is nie, maar eerder 'n tydelike plek.
God is bewus daarvan dat ons eers die goeie stryd moet stry voordat ons die ewigheid kan ingaan. Sien jy die bemoediging wat God vir ons in die Skrifgedeelte in Openbaring 21 gee, om ons te help as ons gevoelens ons laat twyfel in wat ons glo? Hy sal die voortdurende verval en dood en uiterste teleurstelling tot 'n einde bring. Hy sal alles nuut maak!
In hierdie herstelde tuin van Eden, sal die vloek verdwyn en volmaaktheid sal ons begroet, soos 'n lang verlore vriend. Daar sal geen verskil wees tussen ons verwagtinge en ons ervarings nie. Ons sal nie teleurgesteld wees of met teleurstelling leef nie. Ons gevoelens en geloof sal in ooreenstemming wees. Ons sal rein gevoelens hê en ons harte sal in ooreenstemming met die waarheid wees.
In die nuwe Eden sal ons nie 'n stryd hoef te stry tussen ons gevoelens en ons geloof nie, want daar sal geen opposisie wees teen wie God is nie. Niks sal inmeng met hoe God vir ons sorg nie. Daar sal geen teenstrydigheid wees oor hoekom God sekere dinge toelaat nie. Daar sal ook geen knaende vrees wees dat dinge dalk nie reg sal uitwerk nie.
Ons sal nie 'n stryd hoef te stry nie, want alles sal goed uitwerk. Alles sal reg wees. Heel. Volmaak. Seker. Veilig. Beslis. Oorwinnend. Die sirkel sal voltooi word wat ons begrip van die waarheid betref.
REAGEER: Hoe help dit jou om teleurstellings te verwerk, as jy verstaan dat jou lewe tussen twee tuine plaasvind? Hoe troos dit jou om te weet dat God alles reg sal laat uitwerk?
Aangaande hierdie leesplan
Sê jy ook partykeer vir jouself: "Dis nie hoe ek gedink het dit sou uitwerk nie"? Of dit nou 'n verhoudingskrisis is, of jy 'n geliefde verloor het, dit 'n onverklaarbare siekte is en of jy deur 'n moeilike lewensomstandigheid gaan, Lysa TerKeurst verstaan en nooi jou uit om vir hierdie 5-dag leesplan by haar aan te sluit. Saam sal ons leer waar teleurstellings vandaan kom en om die onverwagte krag te ontdek wat jy nodig het om moeilike tye op 'n Bybelse manier aan te pak.
More