Dis nie veronderstel om so te wees nie: 'n 5-Dag Uitdaging deur Lysa TerkeurstVoorbeeld
Geskape vir Voortreflikheid
Teleurstelling.
Dis daardie gevoel dat dinge beter moet wees as wat dit is. Mense behoort beter te wees as wat hulle is. Omstandighede behoort beter te wees as wat dit is. Finansies behoort beter te wees as wat dit is. Verhoudings behoort beter te wees as wat hulle is.
Weet jy wat? Jy's reg. Alles behoort beter te wees as wat dit is. Dis geen wonder dat ek, en jy ook, uitgeput is nie.
Hou aan lees en vind uit wat die Satan nie wil hê jy moet weet nie.
Die teleurstelling wat jou uitput en gefrustreerd laat voel, het die potensiaal om iets goed te wees. Ons kan dit egter net as iets goed sien as ons die hart van die Gewer vertrou.
Jy sien, teleurstelling kan 'n geskenk van God wees wat glad nie soos 'n geskenk voel nie. Dit maak onverwags seer en die Gewer kan voorkom as amper wreed, terwyl ons toekyk hoe iemand die geskenk oopmaak. Hulle vingers bloei. Hulle voel gekul en dink nie dat daar iets goed binne-in gevind kan word nie. Hulle sal vir seker die Een bevraagteken wat toegelaat het dat dit oor hulle pad gekom het.
Teleurstelling is egter nie 'n bewys dat God iets goed van ons weerhou nie. Soms is dit sy manier om ons tuis na Hom te bring. Om te kan sien en verstaan wat regtig aan die gang is, moet ons terugstaan en dit vanuit God se epiese liefdesverhaal bekyk. Die verhaal waarin Hy die mensdom red en met Homself versoen.
'n Goeie plek om te begin, is heel aan die begin.
Genesis een en twee vertel vir ons dat die mens se hart volmaak geskape was in die tuin van Eden. Kan jy jouself voorstel hoe die wêreld gelyk het toe God dit geskape het? Toe Hy gesê het dat alles goed is. Baie goed. Dit was alles perfek.
Die simfonie van volmaaktheid het die lug gevul. Alles was in harmonie met mekaar. Daar was niks wat nie reg gevoel of gelyk het nie. Dit was pragtig, vredevol en vervullend. Daar was volkome vrede in verhoudings.
Adam en Eva was so wonderlik aan mekaar verbind, en het in God se teenwoordigheid gewoon. Dit was 'n paradys met 'n unieke intimiteit, waar God in 'n noue verhouding met Adam en Eva was. Daar was volkome voorsiening en volkome vervulling van hulle doel. Daar was nie hartseer, verwarring of ongeregtigheid nie. Daar was geen siektes, egskeiding, depressie of dood nie. Daar was nie verskuilde motiewe, manipulasie of kwade bedoelings nie.
Dit was als waarvan jy ooit kon droom en selfs nog meer.
Ja, die mens se hart was geskape in die konteks van die volmaaktheid van die tuin van Eden. Ons leef egter nie nou daar nie.
Die pyn en hartseer wat ons nou ervaar laat ons teleurgesteld voel.
Ons praat egter nie daaroor nie.
Ons voel dat ons nie die reg het om daaroor te praat nie of ons weet net nie hoe om ons teleurstelling te verwerk nie.
As ons nie 'n manier vind om ons teleurstelling te verwerk nie, sal ons in die versoeking kom om die Satan toe te laat om God se liefdesverhaal te herskryf, met 'n ongunstige uitkoms, wat ons suspisieus sal maak oor ons Skepper.
Liewe vriend … wees egter gerus; ons God het ons lief en is by ons, selfs hierin. Hy het alles al klaar uitgewerk. Sy planne is goed, selfs al voel die omstandighede nie gunstig nie. Lees asseblief môre se oordenking, waar ons gaan leer hoe om die stryd tussen ons geloof en gevoelens te voer, in tye van teleurstelling.
REAGEER: Watter dinge in jou lewe dink jy behoort beter te wees as wat dit is? Maak 'n lysie en dink eerlik daaroor na. Hoe beïnvloed hierdie teleurstellings of onvervulde verwagtings jou?
Aangaande hierdie leesplan
Sê jy ook partykeer vir jouself: "Dis nie hoe ek gedink het dit sou uitwerk nie"? Of dit nou 'n verhoudingskrisis is, of jy 'n geliefde verloor het, dit 'n onverklaarbare siekte is en of jy deur 'n moeilike lewensomstandigheid gaan, Lysa TerKeurst verstaan en nooi jou uit om vir hierdie 5-dag leesplan by haar aan te sluit. Saam sal ons leer waar teleurstellings vandaan kom en om die onverwagte krag te ontdek wat jy nodig het om moeilike tye op 'n Bybelse manier aan te pak.
More