Wilde Lewe — Begin Werklik LeweVoorbeeld
Begin Jouself Losmaak
My verslawing was pornografie. Ek is op die ouderdom van nege jaar daaraan blootgestel en was tot my twintigerjare daarin vasgevang voordat ek uiteindelik drie aanvanklike treë na ware vryheid geneem het.
Of dit nou 'n soort seksverslawing, dwelmmisbruik, digitale afleiding, obsessiewe stokperdjies, woedebuie, verslawing aan werk of enigiets is wat iets uit ons lewens steel — die meeste van ons het 'n verhaal van verslawing.
Op 'n stadium het ek gevoel ek sal die res van my lewe hierin vasgevang wees. Maar Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê en dit in oorvloed, en Hy het my vrygemaak van seksuele verslawing. Dit was nie onmiddellik nie. Dit was 'n reis met baie treetjies, en dit het so begin.
Eerstens moes ek die oorsprong identifiseer. Verslawing is dikwels 'n simptoom van iets dieper. Vir my was dit 'n gebrek aan bevestiging van wie ek is. Ek het gevoel ek is nie goed genoeg vir God, my vrou, my gesin of my drome nie. Pornografie het my op een of ander manier laat voel ek is nodig en goed genoeg. Ek moes egter ontdek dat God my reeds goed genoeg gemaak het. Hy het my geskep, my geroep, my uitverkies, vir my 'n doel gegee en my waarlik liefgehad.
Vra God om die dieper oorsake vir jou te openbaar. Hy is 'n goedhartige en liefdevolle Vader. Jy kan jou na Hom toe haas en die vertroosting, vrede en genesing vind wat verslawing jou nooit sal bied nie.
Tweedens, ek het dit openbaar gemaak. Vir jare was verslawing 'n geheim wat ek gedink het ek op my eie kon hanteer. Toe ek dit aan goeie vriende en my vrou bely het — en die regte mense gevra het om my aanspreeklik te hou — het my verslawing sy krag begin verloor.
Derdens, ek het na Jesus gegaan. Jesus het gesê Hy het elke versoeking wat aan die mens bekend is ervaar. Hy verstaan ons stryd. Dus het ek na Jesus opgekyk. In hoofstuk vier van Matteus, is Hy drie keer deur die Satan self versoek. Drie keer het Jesus, God se volmaakte Seun, die Bybel aangehaal. Dus, as dit vir Jesus gewerk het …
Ek het waarhede uit die Bybel opgesoek en dit daagliks begin herhaal, veral wanneer ek in die versoeking gekom het. Begin met een vers en vat dit van daar af. Kies dalk een van die vele uit vandag se Skrifgedeeltes.
Ontdek die oorsprong, bring dit aan die lig, en veg terug met die waarheid.
Will, vandag vry
Kyk na vandag se video
Tree op: Delf dieper in die probleem. Vertel dit aan mense wat kan help. Vind 'n Skrifgedeelte om mee terug te veg.
Aangaande hierdie leesplan
Jesus het nie sy volmaakte lewe prysgegee net sodat jy deur joune kan kom nie. Sewe ouens — soos jy — het 'n paar dae opsygesit om rustig te raak, pret te hê, antwoorde te soek en alles op video vas te vang. Gaan die lewe net oor werk en spanning? Hoe klim ons van die prestasie-trapmeul af? Kan ek van verslawing vryraak? Hoe begin ek regtig lewe? Begin hierdie Life.Church leesplan saam met 'n paar vriende om uit te vind.
More