Oorkom Versoekings — Lesse Uit Jesus se LeweVoorbeeld
Christus se Tweede Versoeking
In die tweede versoeking van Jesus, volgens die Matteus evangelie, word Jesus geneem na die bopunt van die tempel en vra die duiwel Hom om af te spring om sodoende sy identiteit te bewys. Die ligging is hier baie belangrik, want die tempel is baie polities van aard. Onder die Romeinse regering het Herodes 'n beeld van 'n goue arend opgerig om getrouheid aan keiser Augustus te bewys. Vir die Jode was dit afskuwelik. Toe patriotiese Jode dit probeer afbreek, het Herodes hulle bymekaar gemaak en tereggestel. Vir die Jode was die tempel die plek waar of Rome of God geregeer het. As Jesus van die bopunt van die tempel kon afspring en land sonder om seer te kry, dan was dit die direkte bewys aan die Jode dat Jesus die Messias is en hulle sou Hom onmiddellik as hul koning gekroon het.
Alhoewel dit polities baie aanloklik kon wees en ook die maklikste manier om sy posisie as die "Seun van God" op te eis, het Jesus die aanbod van die hand gewys. Jesus het gewys dat sy identiteit nie iets vir Hom was om op te eis deur so 'n daad te doen nie, maar deur 'n daad wat heeltemal die teenoorgestelde sou wees, deur die kruisdood. Jesus weier enige aanbod wat nie deur die Vader aan Hom gegee is nie. Hy is nie gewillig om God te toets en die maklike uitweg te neem nie.
Ons as mense het altyd die geneigdheid om die maklike uitweg te neem — om voordele te verkry sonder harde werk, om meer waardering te kry as wat ons verdien, om meer materiële besittings te kry as wat tereg aan ons behoort. Ons geneigdheid om onsself in die oë van die wêreld veel groter te maak, oortref by verre ons sekuriteit in ons identiteit as kinders van God. Ons faal daarin om die waarde in te sien wat God ons as sy eie kinders gee, dus aanvaar ons aanbiedinge wat ons stand in die wêreld kan bevoordeel, of dit nou ons werk is, in die kerk, binne ons familiekring of enige ander plek.
In hierdie Skrifgedeelte sien ons egter hoe Jesus heeltemal seker staan in sy identiteit as die Seun van God. Hy word nie uitgelok deur die aanbod van die wêreld wat tot verwoesting lei nie. Mag God ons harte en ons gedagtes open om waarlik ons waarde as sy kinders te verstaan sodat ons nie deur die aanbiedinge van die wêreld verlei sal word nie.
Aangaande hierdie leesplan
Versoekings is oral om ons. Misleiding kom op die mees subtiele maniere na ons toe. Hoe kan ons dit oorkom? Watter hulpmiddels gee die Bybel vir ons om waaksaam teenoor die bose te wees? In hierdie vier-dag leesplan gaan ons na die drie versoekings van Jesus Christus kyk, hoe Hy hulle oorwin het en hoe ons van hierdie beginsels in ons lewens kan toepas.
More