Staan Sterk In ’n Wankelende Wêreld Deur Angelique Du ToitVoorbeeld
Persoonlike Transformasie
Persoonlike transformasie het ’n prys om te betaal, maar dit is oor en oor die prys werd, want die beloning is soveel groter as die belegging. Dink net aan ’n lewe van ware vryheid – vry van jou verlede, vry van ander se menings, vry om jouself te wees. Dink net daaraan om met eerlikheid na jouself in die spieël te kan kyk en God te dank dat Hy jou gemaak het net soos jy is (sien Psalm 139:13–16). Om dan saam met Hom te werk om die nodige aanpassings, verbeterings en veranderings aan te bring om selfs groter vreugde in jou lewe vry te stel.
In daardie plek van heelheid en vrede kan jy dit terdeë geniet om jou lewe met iemand te deel sonder om bang te wees vir intimiteit, verwerping of teleurstelling. Jy sal miskien weer verwerping of teleurstelling ervaar, maar jy sal nooit weer daardeur vernietig word nie. Jou algehele welstand is in God gegrond, nie in ’n mens nie, want by Hom is daar geen onstabiliteit of enige skadu van ommekeer nie.
Jy kan God se karakter geheel en al vertrou. Hy sal jou nooit teleurstel nie. Jy is veilig by Hom. Hy doen dinge miskien anders as wat jou denkwyse voorskryf, maar Hy is altyd betroubaar en altyd besorg oor jou welstand (sien 2 Timoteus 2:13 en Psalm 37:4–6).
Vertrou dat God goed sal laat voortspruit uit jou huidige beproewing. Wanneer jy dan terugkyk en die kolletjies met mekaar verbind, sal jy besef dit is God wat alles vir jou ten goede te laat meewerk (sien Romeine 8:28). Besluit vandag om jou lewe in God se uiters bekwame hande te plaas.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 5-daglees-plan vir ’n doelgerigte lewe sal lesers aanmoedig om hul Godgegewe talente te ontwikkel, om helder te skyn in ’n donker wêreld en om elke dag te groei in hul verhouding met God. Elke dag bevat gedagtes rondom ’n spesifieke tema (soos lewensdoel, vertroue, innerlike genesing en hoop) en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Angelique du Toit se " Staan sterk in ʼn wankelende wêreld" .
More
Baie dankie aan Struik Christian Media en Angelique du Toit dat hulle hierdie plan beskikbaar gestel het. Vir meer inligting oor die boek “Staan sterk in ’n wankelende wêreld”, besoek https://www.cumbooks.co.za/staan-sterk-in-n-wankelende-wereld-sagteband