Die Leerstellings Van GenadeVoorbeeld
Beperkte Versoening
Die Leerstelling van Beperkte Versoening is die mees omstrede van die vyf punte in die Leerstellings van Genade. Ander terme waarmee ek hierdie leerstelling al beskryf het, sluit Besliste Verlossing, Besliste Versoening of Bepaalde Verlossing in. Wat ek egter beslis weet, is dat dit voorkom as die een wat die meeste verwarring veroorsaak. Is Christus se versoening allesomvattend; dus vir almal bedoel? Of is Christus se versoening net op 'n gekose groep mense gemik? Ek glo die antwoorde om laasgenoemde te bevestig, kan ons in die Woord vind. As God se doel met Christus se verlossing vir almal gegeld het, kom ons te staan voor universalisme, die teorie dat die hele mensdom uiteindelik verlos sal word. Tog stel die Woord dit baie duidelik dat nie almal gered sal word nie, dus is daar diegene wat verlore sal gaan. "Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min" Matteus 7:13-14. Dit is maar een vers wat universalisme weerspreek. Baie mense sal dus in die hel vergaan. As wat Christus aan die kruis bereik het vir almal bedoel was, dan sou almal gered word. Tog het die kruis 'n uiters doelbewuste, spesifieke en besliste doel gehad. As Christus se dood vir die versoening van die hele mensdom was, en almal word nie gered nie, dan het Christus nie sy doel bereik nie. Dit sou nie 'n afgehandelde saak gewees het nie.
Die Levietiese offerstelsel in die Ou Testament was ook nie vir alle mense bedoel nie, maar slegs vir die volk van Israel, God se uitverkore volk. Net soos met daardie stelsel, het Christus slegs vir sy uitverkorenes gesterf, nie vir almal nie. Jesus is gekruisig vir diegene wat die Vader aan Hom gegee het. "Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan" Johannes 6:37-39. Nie alle mense sal gered word nie, slegs sy skape. "Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape" Johannes 10:11. "Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit" Johannes 10:3. Christus se dood was in God se doelbewuste beplanning vir die uitverkorenes. Deur sy dood, is sy skape gered, sy uitverkorenes, en dus was dit nie 'n kans of geleentheid vir die hele mensdom om gered te word nie. Christus se verlossingswerk was nie bloot 'n moontlikheid nie; dit was 'n sekerheid vir sy uitverkorenes.
"God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê" Johannes 3:16. Ons weet reeds dat nie almal sal tot geloof kom en gered word nie. "Baie is immers geroep, maar min is uitverkies" Matteus 22:14. Die Woord weerlê die teorie van universalisme herhaaldelik. Christus het verlossing vir sy uitverkorenes verseker. "... Christus het die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê" Efesiërs 5:25. Beperkte Versoening word dus duidelik in die Skrif geleer. God het reeds sy uitverkorenes gekies voor die wêreld geskep is. Wat die vraag dan betref — vir wie Christus gesterf het? Hy het vir sy uitverkorenes gesterf.
Elke sonde wat sedert die begin van alle tye en tot Christus se wederkoms deur die mens gepleeg word, sal deur God hanteer word. God se toorn oor hierdie sonde is vir die uitverkorenes op sy Seun geplaas en ten volle betaal. Vir die ongelowiges, sal daardie toorn egter in die hel op hulle neerkom. Hierdie leerstelling was vir my die moeilikste om te verstaan, maar terwyl ek die ander vier punte van die Leerstellings van Genade bestudeer het, het die Heilige Gees my oë oopgemaak vir die opperheerskappy van God. Ons kan wonder waarom God slegs sommige en nie almal uitverkies nie, maar ons gedagtes is nie God s'n nie. Wie ken tog die denke van God? "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here. soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes" Jesaja 55:8-9. God is oppermagtig en "Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil ..." Romeine 9:18. Ek verkies dus om in die oppermagtige regering en heerskappy van God en sy Woord te glo, eerder as om hierdie leerstelling as 'n oorsaak van verwarring te beskou.
Die hart van die Here is op sy uitverkorenes gerig. Hy bid nie vir almal nie, maar slegs vir hulle wat die Vader aan Hom gegee het (Johannes 17:9). Hy het Homself aan sy uitverkorenes gewy (Johannes 17:19). Dié wat Hy uitverkies het, "is deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees ..." 1 Petrus 1:2. Die leerstelling van Beperkte Versoening behoort dus vreugde aan sy uitverkorenes te bring. Ons is waarlik vry. Ons skuld is ten volle betaal. Ons is nie langer van God geskei nie en hoef ook nie vir sy toorn te wag nie. Christus is ons versoening.
deur Kelly Smith
Besprekingsvrae vir jou joernaal:
- Wat was Jesus se persoonlike sending? Hoe help die vergelyking van "skaapwagter en skape" vir jou?
- Wat was die doel of oogmerk van Jesus se dood?
- Wat word met "plaasvervangende versoening" bedoel? Waarom is dit belangrik om te verstaan?
- Wat het Jesus se dood vir "sy skape" behaal? Hoe help die vier teologiese terme (boetedoening, versoening, bemiddeling, verlossing) ons om beter te verstaan wat vir ons bewerk is?
Lees verder oor Beperkte Versoening.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 5-dag leesplan is 'n in-diepte studie oor die leerstellings van genade. T.U.L.I.P is 'n teologiese akroniem wat die opperheerskappy van God verhoog. Die verheerliking van God se genade, is die waarheid waaraan uitdrukking in die leerstellings van genade gegee word.
More