PSALMS 137:1-9
PSALMS 137:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang toe dié wat vir ons gevange weggevoer het, ons gevra het om 'n lied te sing, toe dié wat vir ons leed aangedoen het, van ons vrolikheid wou hê: “Sing vir ons 'n lied oor Sion!” Hoe kan ons die lied van die Here sing in 'n vreemde land? As ek jou sou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan verlam raak. Mag my tong aan my verhemelte vaskleef as ek aan jou nie dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie. Onthou die Edomiete, Here, die dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou het met sê: “Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!” Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het! Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen 'n klip verbrysel.
PSALMS 137:1-9 Bybel vir almal (ABA)
By die riviere van Babel, daar het ons gesit en huil toe ons gedink het aan Sion. Ons het ons liere daar opgehang aan die populierbome, want ons was gevangenes daar, en die mense wat vir ons gevang het, het vir ons gevra om 'n lied te sing. Die mense wat vir ons verdruk het, het vir ons gesê dat ons vrolik moet wees en 'n lied oor Sion moet sing. Maar ons kon nie die lied van die Here in 'n vreemde land sing nie. Jerusalem, as ek jou vergeet, dan moet my regter-hand vergeet hoe om die lier te speel. As ek nie aan jou dink nie, dan moet my tong vassit bo in my mond sodat ek nie kan sing nie. Jerusalem moet die plek bly waar ek die graagste wil wees. Here, U moet onthou wat die Edomiete gedoen het toe die vyande Jerusalem verwoes het. Hulle het gesê: “Breek die mure af, breek dit af tot op die fondamente!” Mense van Babel, vyande sal julle verwoes. Dit sal goed gaan met die mense wat dieselfde met julle doen soos julle met ons gedoen het. Dit sal goed gaan met die mense wat julle babatjies gryp en teen 'n rots doodslaan.
PSALMS 137:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
BY die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van 'n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons 'n Sionslied. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in 'n vreemde land? As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie. HERE, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom! O Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!
PSALMS 137:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; want daar het dié wat ons gevange geneem het vir ons die woorde van 'n lied gevra; hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag: “Sing vir ons een van die Sionsliedere!” Hoe kan ons 'n lied van die HERE sing op vreemde grond? As ek jou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan vergeet hoe om te speel. Mag my tong aan my verhemelte kleef, as ek jou nie onthou nie, as ek Jerusalem nie my heel grootste vreugde maak nie. HERE, onthou die Edomiete oor die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: “Stroop, stroop haar tot op die fondamente!” Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou jou dade vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen 'n rotswand!
PSALMS 137:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
By die riviere van Babel, daar het ons gaan sit, ja, ons het geween, toe ons aan Sion gedink het. Ons het ons siters aan die wilgers in die middel daarvan opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons 'n lied geëis; en die wat ons vermors het, het van ons vreugde geëis en gesê: Sing vir ons een van die liedere van Sion. Hoe sal ons die lied van die HERE sing in 'n vreemde land? As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand haar listigheid vergeet. As ek aan jou nie dink nie, laat my tong aan my verhemelte kleef; as ek Jerusalem nie bo my grootste vreugde verkies nie. Dink, HERE, aan die kinders van Edom op die dag van Jerusalem; wat gesê het: Breek dit, verdeel dit, tot op die fondament daarvan. O dogter van Babel, wat vernietig moet word; gelukkig sal hy wees wat jou beloon soos jy ons gedien het. Gelukkig sal hy wees wat jou kleintjies teen die klippe slaan.
PSALMS 137:1-9 Die Boodskap (DB)
Ver van die huis af het ons gesit, eensaam by ’n rivier in Babilon. Daar was ons slawe in die vreemde. Ons het gehuil. Sonder ’n land en ons eie plek om die Here te aanbid het ons gehuil as ons aan die huis terugdink. Ons wou nie meer sing en musiek maak nie. Die mense wat ons gevang en so sleg behandel het, het ons gespot. Hulle wou hê ons moet vrolik sing en bly wees, maar ons kon nie. Hulle het geëis: “Sing ’n lied oor die Here se woonplek in Jerusalem!” Hoe kan ons liedere sing wat al die ou herinnerings terugbring? Dit is net nie dieselfde om die Here hier te loof nie. Ons is te ver van die plek af waar ons Hom altyd gedien en aanbid het. Ek sal Jerusalem, waar ons die Here aanbid het, nooit vergeet nie, al is dit nou ’n ashoop. As ek die stad vergeet, kan ek net sowel vergeet om my regterhand te gebruik. Dit sal nie gebeur nie. Mag ek vir altyd ophou praat as ek daardie plek vergeet waar ons die Here aanbid het. Niks maak my blyer as om daaraan te dink nie. Here, straf die mense wat ons kosbare tempel platgeslaan het. Hulle het ons besteel. Hulle het gesê: “Breek dit af; slaan dit plat tot op die grond.” O, julle mense van Babel wat ons plek verwoes het, die Here gaan julle ook verwoes. Julle verdien ’n swaar en wrede straf. Gelukkig is die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het. As iemand julle kinders se koppe teen die mure stukkend slaan, is dit julle verdiende loon.
PSALMS 137:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
By die riviere van Babel het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Ons het ons liere daar aan die wilgerbome opgehang. Dié wat ons weggevoer het, het ons gevra om ’n lied te sing. Ons verdrukkers het gesê ons moet ’n vreugdelied sing: “Sing vir ons ’n Sionslied!” Maar hoe kan ons in ’n vreemde land ’n lied van die HERE sing? As ek jou vergeet, Jerusalem, laat my regterhand dan uitdroog. As ek nie meer aan jou dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde is nie, mag my tong kleef aan my verhemelte. Onthou tog die Edomiete, HERE, en wat hulle gedoen het toe Jerusalem ingeneem is. Hulle het geskreeu: “Slaan plat! Slaan plat tot op die fondamente!” Babel, jy is gedoem tot verwoesting. Geseënd is die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het. Geseënd is hý wat jou babatjies neem en hulle teen ’n klip verpletter!