Psalms 137:1-9

Psalms 137:1-9 ABA

By die riviere van Babel, daar het ons gesit en huil toe ons gedink het aan Sion. Ons het ons liere daar opgehang aan die populierbome, want ons was gevangenes daar, en die mense wat vir ons gevang het, het vir ons gevra om 'n lied te sing. Die mense wat vir ons verdruk het, het vir ons gesê dat ons vrolik moet wees en 'n lied oor Sion moet sing. Maar ons kon nie die lied van die Here in 'n vreemde land sing nie. Jerusalem, as ek jou vergeet, dan moet my regter-hand vergeet hoe om die lier te speel. As ek nie aan jou dink nie, dan moet my tong vassit bo in my mond sodat ek nie kan sing nie. Jerusalem moet die plek bly waar ek die graagste wil wees. Here, U moet onthou wat die Edomiete gedoen het toe die vyande Jerusalem verwoes het. Hulle het gesê: “Breek die mure af, breek dit af tot op die fondamente!” Mense van Babel, vyande sal julle verwoes. Dit sal goed gaan met die mense wat dieselfde met julle doen soos julle met ons gedoen het. Dit sal goed gaan met die mense wat julle babatjies gryp en teen 'n rots doodslaan.