Psalms 137:1-9

Psalms 137:1-9 AFR20

Aan die riviere van Babel, daar het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Aan die rivierwilgers in daardie land het ons ons liere opgehang; want daar het dié wat ons gevange geneem het vir ons die woorde van 'n lied gevra; hulle wat ons weggevoer het, het van ons vreugde verwag: “Sing vir ons een van die Sionsliedere!” Hoe kan ons 'n lied van die HERE sing op vreemde grond? As ek jou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan vergeet hoe om te speel. Mag my tong aan my verhemelte kleef, as ek jou nie onthou nie, as ek Jerusalem nie my heel grootste vreugde maak nie. HERE, onthou die Edomiete oor die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: “Stroop, stroop haar tot op die fondamente!” Dogter van Babel, gedoem tot verwoesting, gelukkig die een wat jou jou dade vergeld wat jy ons aangedoen het! Gelukkig die een wat jou kinders gryp en verpletter teen 'n rotswand!