PSALMS 119:97-128

PSALMS 119:97-128 Die Boodskap (DB)

Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens. U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg. Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het. Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is. My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie. Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie. U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap. Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe. Ek hou niks van skynheiliges nie, maar ek het u wet baie lief. By U kruip ek weg, want U is baie sterk, U pas my goed op. Ek wag op u Woord om my sterk te maak. Julle spul slegte mense moet dadelik padgee sodat ek kan doen wat my God sê. Here, hou my hand styf vas soos U beloof het, dan sal ek voluit lewe. Moenie my teleurstel nie, kyk dan net hoe glo ek in U. Hou my regop, dan is alles in orde, dan sal ek doen wat U sê. U hou niks van mense wat nie na U luister nie. Hulle praat ’n spul leuens. U vee goddelose mense van die aarde af soos ’n klomp rommel; daarom is ek so lief vir u Woord. Ek het baie groot respek vir U. Dit wat U doen, vul my met ontsag. Ek het nog altyd gedoen wat reg is, moenie dat my vyande my beetkry nie. Kies asseblief my kant, goeie God, moenie dat mense wat te veel van hulleself dink, my uitbuit nie. Ek sien baie uit na die dag dat U my kom help, ek hou vas aan u belofte dat U net doen wat reg is. Tree asseblief in liefde teenoor my op, wys my hoe ek moet lewe. Onthou, ek is u dienskneg, wys my wat dit presies beteken sodat ek kan doen wat reg is. Here, vat daardie spul vas wat u wet oortree. Ek het u voorskrifte met my hele lewe lief, dit beteken meer vir my as al die goud in die wêreld. Daarom doen ek alles wat U sê tot in die fynste besonderhede. Maar verkeerde dinge, dit haat ek.

PSALMS 119:97-128 Bybel vir almal (ABA)

Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is. Die dinge wat U vir ons gesê het, is vir my soos 'n lamp wanneer ek in die donker loop, dit wys vir my hoe ek moet lewe. Ek het belowe, en ek sal dit doen: Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg. Dit gaan baie baie sleg met my, U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Here, die dinge wat ek vir U sê, is offers wat ek graag vir U bring. U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer om te verstaan wat U besluit. Daar is altyd mense wat my wil doodmaak, maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie. Die mense wat verkeerd doen, wil my vang soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet, maar ek hou aan om te doen wat U beveel. Ek wil altyd onthou wat U sê, want dit maak my baie bly. Ek het besluit om altyd te doen wat u wette sê, so lank soos ek lewe. Ek hou nie van mense wat skynheilig is nie, maar ek is lief vir wat U vir ons geleer het. By U is ek veilig, U beskerm my, ek weet U sal doen wat U gesê het. Slegte mense moenie naby my kom nie, sodat ek kan doen wat die gebooie van my God sê. U moet my regop hou, soos U belowe het, dan sal ek aanhou lewe, U moet my help, sodat ek kan aanhou hoop. Wanneer U my regop hou, dan is ek veilig en dan kyk ek altyd wat u wette sê. U hou nie van mense wat ongehoorsaam is aan u wette nie, want hulle is vals, hulle wil mense bedrieg. U los al die mense wat verkeerd doen, hulle is soos skuim wat niks beteken nie. Daarom is ek lief vir wat U sê. Ek is bang vir U, ek bewe, ek is bang vir wat U besluit. Ek het reg gedoen aan mense en ek het gelewe soos U wil hê. U moenie vir my los sodat mense my verdruk nie. U moet vir my, u dienaar, belowe dat U dit goed sal laat gaan met my. U moenie dat hoogmoedige mense my verdruk nie. My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk wanneer U my sal red. Ek hou aan om te luister na wat U sê, want wat U sê, is reg. U moet vir my, u dienaar, doen wat U belowe het, U moet vir my leer wat u wette sê. Ek is u dienaar, U moet my verstandig maak sodat ek kan verstaan wat U sê. Here, U moet nou iets doen aan die mense wat nie doen wat U vir ons geleer het nie. Waarlik, ek is meer lief vir u gebooie as vir goud, ja, goeie goud. Waarlik, ek probeer altyd om alles te doen wat U beveel, ek hou nie van iets wat vals is nie.

PSALMS 119:97-128 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief. U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek. Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar! Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie. Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let. U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens. U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief. My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie. Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie. My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid. Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge. Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken. Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek. Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud. Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.

PSALMS 119:97-128 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe. Ek haat huigelary, maar u wet het ek lief. By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue. Gaan weg van my af, julle wat onreg doen; ek sal aan die gebooie van my God gehoorsaam bly. Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe, dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie. Beskerm my, dan sal ek behoue bly en u voorskrifte gedurig voor oë hou. U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal; met hulle ontrou mislei hulle hulleself. U verwyder al die goddeloses van die aarde af soos waardelose skuim, daarom het ek u verordeninge lief. Ek sidder van vrees vir U, ek het diepe ontsag vir u bepalings. Ek het gedoen wat reg en regverdig is, moet my tog nie oorgee aan die genade van dié wat my veronreg nie. Tree tog vir my in dat dit met my goed kan gaan, moenie toelaat dat hovaardige mense my verdruk nie. Ek smag na die bevryding wat U bring, na u woord wat my red. Handel met my volgens u troue liefde, leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge. Dit is tyd dat die Here ingryp teen dié wat sy wet oortree. Ek het u gebooie liewer as goud, as fyn goud. Daarom leef ek nougeset volgens al u bevele en haat ek elke verkeerde pad.

PSALMS 119:97-128 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; HERE, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, HERE, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe. Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die HERE om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.

PSALMS 119:97-128 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

MEM. O, hoe het ek U wet lief! dit is my meditasie die hele dag. U het my deur U gebooie wyser gemaak as my vyande, want hulle is altyd by my. Ek het meer verstand as al my leraars, want U getuienisse is my oordenking. Ek verstaan meer as die oudstes, want ek bewaar U bevele. Ek het my voete van elke verkeerde weg teruggehou, om u woord te bewaar. Ek het nie van U oordele afgewyk nie, want U het my geleer. Hoe soet is U woorde na my smaak! ja, soeter as heuning vir my mond! Deur u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke bedrieglike weg. NUN. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en ek sal dit volbring, dat ek U regverdige verordeninge sal onderhou. Ek is baie verdruk; maak my lewend, HERE, volgens U woord. Aanvaar tog die vrywillige offers van my mond, o HERE, en leer my U oordele. My siel is altyddeur in my hand, maar ek vergeet U wet nie. Die goddelose het vir my 'n strik gelê, maar ek het nie van U bevele afgedwaal nie. U getuienisse het ek vir ewig as 'n erfdeel geneem, want dit is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig om U insettinge altyd te doen, tot die einde toe. SAMECH. Ek haat ydele gedagtes, maar U wet het ek lief. U is my skuilplek en my skild; ek hoop op U woord. Gaan weg van my af, julle kwaaddoeners, want ek sal die gebooie van my God bewaar. Ondersteun my volgens U woord, dat ek kan lewe, en laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Hou my op, en ek sal veilig wees, en ek sal U insettinge altyddeur ag slaan. U het almal vertrap wat van U insettinge afdwaal, want hulle bedrog is leuens. U vernietig al die goddeloses van die aarde soos skuim; daarom het ek U getuienisse lief. My vlees bewe van vrees vir jou; en ek is bang vir U oordele. AIN. Ek het reg en geregtigheid gedoen; laat my nie oor aan my verdrukkers nie. Sorg vir U dienaar ten goede; laat hoogmoediges my nie verdruk nie. My oë verswak vir U heil en na die woord van U geregtigheid. Handel met U kneg na U goedertierenheid, en leer my U insettinge. Ek is U dienaar; gee my insig, dat ek U getuienisse kan ken. Dit is tyd vir U, HERE, om te werk, want hulle het U wet tot niet gemaak. Daarom het ek U gebooie lief bo goud; ja, bo fyn goud. Daarom ag ek al u bevele aangaande alle dinge as reg; en ek haat elke valse manier.

PSALMS 119:97-128 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe. Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief. U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord. Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig. U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog. Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief. Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel. Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is. Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie. Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid. Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan. Dis tyd dat U optree, HERE, want hulle het u gebooie oortree. Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud. Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.