Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.
U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.
Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.
Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.
Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.
Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer.
Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.
U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.
Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.
Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord!
Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge.
My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.
Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.
Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.
Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.
Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.
U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.
Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!
Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.
Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.
U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.
U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.
My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.
Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.
Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.
My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.
Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.
Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.
Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.
Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.
Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.