Psalms 119:97-128

Psalms 119:97-128 ABA

Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is. Die dinge wat U vir ons gesê het, is vir my soos 'n lamp wanneer ek in die donker loop, dit wys vir my hoe ek moet lewe. Ek het belowe, en ek sal dit doen: Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg. Dit gaan baie baie sleg met my, U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Here, die dinge wat ek vir U sê, is offers wat ek graag vir U bring. U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer om te verstaan wat U besluit. Daar is altyd mense wat my wil doodmaak, maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie. Die mense wat verkeerd doen, wil my vang soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet, maar ek hou aan om te doen wat U beveel. Ek wil altyd onthou wat U sê, want dit maak my baie bly. Ek het besluit om altyd te doen wat u wette sê, so lank soos ek lewe. Ek hou nie van mense wat skynheilig is nie, maar ek is lief vir wat U vir ons geleer het. By U is ek veilig, U beskerm my, ek weet U sal doen wat U gesê het. Slegte mense moenie naby my kom nie, sodat ek kan doen wat die gebooie van my God sê. U moet my regop hou, soos U belowe het, dan sal ek aanhou lewe, U moet my help, sodat ek kan aanhou hoop. Wanneer U my regop hou, dan is ek veilig en dan kyk ek altyd wat u wette sê. U hou nie van mense wat ongehoorsaam is aan u wette nie, want hulle is vals, hulle wil mense bedrieg. U los al die mense wat verkeerd doen, hulle is soos skuim wat niks beteken nie. Daarom is ek lief vir wat U sê. Ek is bang vir U, ek bewe, ek is bang vir wat U besluit. Ek het reg gedoen aan mense en ek het gelewe soos U wil hê. U moenie vir my los sodat mense my verdruk nie. U moet vir my, u dienaar, belowe dat U dit goed sal laat gaan met my. U moenie dat hoogmoedige mense my verdruk nie. My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk wanneer U my sal red. Ek hou aan om te luister na wat U sê, want wat U sê, is reg. U moet vir my, u dienaar, doen wat U belowe het, U moet vir my leer wat u wette sê. Ek is u dienaar, U moet my verstandig maak sodat ek kan verstaan wat U sê. Here, U moet nou iets doen aan die mense wat nie doen wat U vir ons geleer het nie. Waarlik, ek is meer lief vir u gebooie as vir goud, ja, goeie goud. Waarlik, ek probeer altyd om alles te doen wat U beveel, ek hou nie van iets wat vals is nie.