PSALMS 119:129-152

PSALMS 119:129-152 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

U bepalings is wonderlik; daarom hou ek daarby. As u woorde oopgaan, gee dit lig; dit gee insig aan onkundiges. Met 'n oop mond hyg ek, want ek hunker na u gebooie. Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet. Maak my treë ferm met u woord en laat geen onreg oor my heers nie. Bevry my van onderdrukking deur mense, sodat ek u opdragte kan nakom. Laat die lig van u aangesig oor u dienskneg skyn, en leer my u voorskrifte. Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet nakom nie. Regverdig is U, HERE, en u beslissings is reg. U het in •geregtigheid u bepalings uitgevaardig, en in goeie trou. My ywer verteer my omdat my teenstanders u woorde vergeet. U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief. Ek is klein en word geminag, maar u opdragte vergeet ek nie. U geregtigheid is regverdig vir ewig en u wet is betroubaar. Benoudheid en angs het my oorval, maar u gebooie is my vreugde. U bepalings is regverdig vir ewig; gee my insig, sodat ek kan lewe. Ek roep met my hele hart: “Antwoord my, HERE, u voorskrifte wil ek onderhou!” Ek roep na U: “Verlos my sodat ek u bepalings kan nakom!” Voor die oggendskemer roep ek al om hulp; op u woorde wag ek. Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink. Luister tog in u troue liefde na my stem, HERE, hou my lewend volgens u beslissing. Mense wat slinkse planne najaag, kom nader; hulle bly ver van u wet. Maar U, HERE, is naby, en al u gebooie is betroubaar. Uit u bepalings weet ek lank reeds dat U dit vir ewig gevestig het.

PSALMS 119:129-152 Bybel vir almal (ABA)

Wat U sê, is wonderlik, daarom doen ek wat U sê. Wanneer mense verstaan wat U gesê het, dan is dit vir hulle soos 'n lig, dit wys vir jongmense wat hulle moet doen. Ek is honger vir u gebooie, so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak omdat hy honger is. U moet luister en genadig wees vir my, soos U altyd doen vir die mense wat lief is vir u Naam. U moet my help, sodat ek kan aanhou om te lewe soos U sê. U moenie dat sonde oor my regeer nie, nie een sonde nie. U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie, dan sal ek kan doen wat U beveel. U moet naby my wees, naby my, u dienaar, en U moet vir my leer wat u wette sê. My trane loop soos strome water omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie. Here, U doen reg, U besluit reg. Alles wat U gesê het, is reg, mense kan dit altyd glo. Ek word baie kwaad wanneer my vyande vergeet wat U gesê het. Die dinge wat U sê, is baie waar. Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê. Ek is klein en onbelangrik maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie. U doen reg en U sal altyd reg doen, die dinge wat U vir ons geleer het, bly dieselfde. Toe ek swaargekry het en toe dit sleg gegaan het met my, was dit vir my lekker om u gebooie te hou. Wat U sê, is altyd reg, U moet my help om dit te verstaan, sodat ek kan aanhou lewe. Here, ek roep en ek vra dat U my moet help, ek vra dit met my hele hart. U moet my antwoord, ek wil doen wat u wette sê. Ek roep en ek vra dat U my moet red, sodat ek kan doen wat U sê. Ek staan op voordat die son opkom en ek vra dat U my moet help, ek weet U sal doen wat U gesê het. Ek bly die hele nag wakker, sodat ek kan dink aan wat U belowe het. Here, U doen wat U belowe het en wat U besluit het. U moet luister na wat ek vra, U moet my laat aanhou lewe. Die mense is naby wat my volg en jaag om my seer te maak, maar hulle is ver van wat U vir ons geleer het. Here, U is naby en u gebooie verander nie. Ek weet van die begin af wat U gesê het, want u woorde bly altyd waar.

PSALMS 119:129-152 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig. Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek. Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet. Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou. Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge. My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou. My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het. U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie. U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid. Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging. U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar. Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou. Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek. My oë is die nagwake voor om u woord te oordink. Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge. Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is. U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid. Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.

PSALMS 119:129-152 Afrikaans 1983 (AFR83)

U verordeninge is wonderlik, daarom kom ek hulle na. Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Bevry my van veronregting deur mense. Ek wil u bevele gehoorsaam. Verskyn tog tot my redding, leer my u voorskrifte. My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie. U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg. In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig. Ontsteltenis verteer my omdat my teëstanders u woord verontagsaam. U woord is baie suiwer, ek het dit lief. Al is ek gering en verag, u bevele verontagsaam ek nie. U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas. Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig. U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe. Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe. Dié wat my met soveel lis vervolg, kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. U is by my, Here, alles wat U gebied het, staan vas. Van lankal af weet ek van u verordeninge dat U hulle altyd vas laat staan.

PSALMS 119:129-152 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

PE. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. Die ingang van u woorde gee lig; dit gee verstand aan die eenvoudiges. Ek het my mond oopgemaak en hyg, want ek het verlang na U gebooie. Kyk na my en wees my genadig, soos jy gewoond was om te doen aan dié wat u Naam liefhet. Volg my voetstappe volgens U woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. Red my van die onderdrukking van mense, so sal ek U bevele bewaar. Laat U aangesig skyn oor u kneg; en leer my U insettinge. Waterstrome loop in my oë af, omdat hulle U wet nie onderhou nie. TZADDI. Regverdig is U, o HERE, en opreg is U oordele. Jou getuienisse wat jy beveel het, is regverdig en baie getrou. My ywer het my verteer, omdat my vyande U woorde vergeet het. U woord is baie rein; daarom het U kneg dit lief. Ek is klein en verag; tog vergeet ek U bevele nie. U geregtigheid is 'n ewige geregtigheid, en u wet is die waarheid. Benoudheid en benoudheid het my aangegryp, maar U gebooie is my behae. Die geregtigheid van U getuienisse is vir ewig; gee my insig, en ek sal lewe. KOPH. Ek het met my hele hart gehuil; luister na my, HERE, ek sal U insettinge onderhou. Ek het U aangeroep; red my, en ek sal U getuienisse bewaar. Ek het die aanbreek van die môre verhinder en uitgeroep: Ek het op u woord gehoop. My oë keer die nagwaak, dat ek u woord kan oordink. Hoor my stem na U goedertierenheid: o HERE, maak my lewend volgens U oordeel. Hulle kom nader wat onheil volg: hulle is ver van u wet af. U is naby, HERE; en al U gebooie is waarheid. Aangaande u getuienisse het ek van ouds af geweet dat U dit vir altyd gegrond het.

PSALMS 119:129-152 Die Boodskap (DB)

Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg. Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig, dit vul gewone mense met wysheid. Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe. Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet. Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad. Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie. Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen, sodat ek net kan doen wat U sê. Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen. Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie. Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge. U sê presies vir ons hoe ons moet leef. Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie. U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer! Daarom het ek u Woord so lief. Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie. U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar. Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe. Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!” Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen. Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou. Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help, ek wag dat U my moet antwoord. In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig. Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê. Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God. Here, laat my weer voluit leef! Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader, hulle loop al verder en verder van u wet af weg. Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid. Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan.

PSALMS 119:129-152 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle. Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie. Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet. Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie. Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam. Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte. Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag. HERE, U is regverdig, en u oordele is reg. U vereistes is regverdig; dit is baie betroubaar. My ontsteltenis oorweldig my, want my vyande verontagsaam u woorde. U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief. Al is ek gering en verag, ek misken nie u bevele nie. U regverdigheid duur vir altyd, en u gebooie is betroubaar. Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde. U vereistes is altyd regverdig; gee my insig sodat ek kan lewe. Ek roep tot U met my hele hart; antwoord my tog, HERE! U voorskrifte sal ek gehoorsaam. Ek roep na U: Red my, en ek sal u vereistes gehoorsaam. Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord. Die hele nag lê ek wakker om u woord te oordink. Luister na my roepstem, HERE, op grond van u troue liefde. Laat my lewe op grond van u regverdigheid. Sluwe vervolgers kom al nader, maar lewe ver van u gebooie af. Maar U is naby, HERE, en al u gebooie is betroubaar. Van lankal af het ek geweet dat u eise nooit verander nie.