Psalms 119:129-152

Psalms 119:129-152 DB

Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg. Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig, dit vul gewone mense met wysheid. Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe. Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet. Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad. Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie. Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen, sodat ek net kan doen wat U sê. Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen. Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie. Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge. U sê presies vir ons hoe ons moet leef. Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie. U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer! Daarom het ek u Woord so lief. Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie. U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar. Al kom ek vragte vol probleme teë, nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink. U voorskrifte is vir altyd waar en reg, leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe. Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!” Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen. Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou. Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help, ek wag dat U my moet antwoord. In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig. Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê. Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God. Here, laat my weer voluit leef! Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader, hulle loop al verder en verder van u wet af weg. Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid. Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan.