Psalms 119:129-152

Psalms 119:129-152 ABA

Wat U sê, is wonderlik, daarom doen ek wat U sê. Wanneer mense verstaan wat U gesê het, dan is dit vir hulle soos 'n lig, dit wys vir jongmense wat hulle moet doen. Ek is honger vir u gebooie, so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak omdat hy honger is. U moet luister en genadig wees vir my, soos U altyd doen vir die mense wat lief is vir u Naam. U moet my help, sodat ek kan aanhou om te lewe soos U sê. U moenie dat sonde oor my regeer nie, nie een sonde nie. U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie, dan sal ek kan doen wat U beveel. U moet naby my wees, naby my, u dienaar, en U moet vir my leer wat u wette sê. My trane loop soos strome water omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie. Here, U doen reg, U besluit reg. Alles wat U gesê het, is reg, mense kan dit altyd glo. Ek word baie kwaad wanneer my vyande vergeet wat U gesê het. Die dinge wat U sê, is baie waar. Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê. Ek is klein en onbelangrik maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie. U doen reg en U sal altyd reg doen, die dinge wat U vir ons geleer het, bly dieselfde. Toe ek swaargekry het en toe dit sleg gegaan het met my, was dit vir my lekker om u gebooie te hou. Wat U sê, is altyd reg, U moet my help om dit te verstaan, sodat ek kan aanhou lewe. Here, ek roep en ek vra dat U my moet help, ek vra dit met my hele hart. U moet my antwoord, ek wil doen wat u wette sê. Ek roep en ek vra dat U my moet red, sodat ek kan doen wat U sê. Ek staan op voordat die son opkom en ek vra dat U my moet help, ek weet U sal doen wat U gesê het. Ek bly die hele nag wakker, sodat ek kan dink aan wat U belowe het. Here, U doen wat U belowe het en wat U besluit het. U moet luister na wat ek vra, U moet my laat aanhou lewe. Die mense is naby wat my volg en jaag om my seer te maak, maar hulle is ver van wat U vir ons geleer het. Here, U is naby en u gebooie verander nie. Ek weet van die begin af wat U gesê het, want u woorde bly altyd waar.